Eiendomme

Leefstyl-eiendom in Kaap nog in groot aanvraag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ondanks groot ekonomiese en politieke uitdagings, bied Suid-Afrika steeds enkele gebiede van weerstandigheid en groeipotensiaal, asook opkomende sektore, soos hernubare energie en toerisme, wat groot geleenthede vir entrepreneuriese ontwikkelings en die bevordering van beroepsgeleenthede bied.

En, gedagtig daaraan dat leefstyl- en klimaatgedrewe bedrywe die groot aandrywers gaan wees van die mees aktiewe sektore, is dit geen wonder nie dat so baie plaaslike sowel as buitelanders die land as die ideale bestemming beskou vir 'n vakansie, 'n wegbreek, 'n avontuur of selfs as 'n mediese bestemming.

Al hoe meer oorsese kopers stel in Kaapse eiendom belang om leefstyl-geleenthede te ontgin.
Al hoe meer oorsese kopers stel in Kaapse eiendom belang om leefstyl-geleenthede te ontgin.

Volgens Arnold Maritz, medehoof van Lew Geffen Sotheby's International Realty-eiendomsgroep, is daar 'n duidelike toename in die belangstelling vir Kaapse leefstyl-eiendom. Dis nou enigiets van weelderige vakansiehuise tot klein wild- of wynplase. Eksklusiewe landgoedere, wat dikwels as boetiekhotelle, spa's en wegbreekplekke ontwikkel word, is ook besonder gewild onder sulke kopers.

'n Nuwe tendens, sê Maritz, is die gewildheid van Kaapstad onder die nuwe geslag van reisende werkers ("digital nomads"). Dis mense wat 'n buitelandse inkomste verdien, terwyl hulle die stad se blink leefstyl ten volle kan geniet, veral in die Kaap se warm somermaande.

"Die uitgangspunt, veral onder ryk kopers, is dat die Kaapse eiendomsmark steeds aantreklik is. Dit is relatief goedkoop in vergelyking met die internasionale mark, en danksy die stad se goeie diensrekord is daar baie minder bekommernis oor enige wisselkoers-onstabiliteit, sosiale onrus of swak dienslewering," sê hy.

"Dié mense is dus gemaklik daarmee om R25 miljoen of selfs meer aan eiendom te bestee.

"Ons kantoor het die afgelope jaar talle eiendomme aan buitelandse kopers verkoop wat meer as R20 miljoen elk werd was. Daarby word ons oorval deur kopers vanuit die binneland wat op soek is na woon- en sake-eenhede, insluitend leefstyl-eiendom in gebiede soos Constantiaberg," sê hy.

'n Nuwe landgoed in Zwaanswyk is tans vir R85 miljoen in die mark. Die huis beslaan onder meer 14 slaapkamers en het sy eie tennisbaan.
'n Nuwe landgoed in Zwaanswyk is tans vir R85 miljoen in die mark. Die huis beslaan onder meer 14 slaapkamers en het sy eie tennisbaan.

Een so 'n eiendom was 'n treffende woning met 14 slaapkamers in Zwaanswyk. Die landgoed bied slegs 123 residensiële eenhede, en sommige erwe beslaan 5 000 m2, almal met pragtige uitsigte oor Valsbaai en die Hottentots-Hollandberge.

"Die eiendom, met sy drie swembaddens, word tans as 'n boetiek-hotel en spa bestuur. Maar dit is ook geskik as 'n aftreeoord, 'n leefstyl-landgoed of as 'n groot private landgoed," sê Maritz.

Die eiendom is in die mark vir R85 miljoen, en het reeds heelwat navraag uit die buiteland ontlok.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM