Die futlose Suid-Afrikaanse huismark het min kans op herstel in 2024, waarsku eiendomskenners.
Reële huispryse - wanneer die 6%-inflasiekoers bygereken word - het in die eerste 11 maande van 2023 met 4% gedaal, vergeleke met dieselfde tydperk in 2022.
Die beweging in huispryse hou regstreeks verband met 'n land se ekonomie, en die vooruitsigte vir die komende jaar is nie juis bemoedigend nie.
Volgens Kobus Lamprecht, ekonoom en redakteur van die Rode-verslag oor die stand van eiendom in Suid-Afrika, sal die ekonomie vanjaar stadig groei weens faktore soos 'n dreigende fiskale afgrond, die voortslepende elektrisiteitskrisis en die logistiek-krisis weens die verval van spoorweë en ondoeltreffende hawens wat nie gou opgelos gaan word nie.
Daar is ook diep gewortelde probleme wat uiteindelik sal maak dat al hoe minder Suid-Afrikaners vir huisverbande kwalifiseer. Dit sluit in 'n swak skoolstelsel en volgehoue hoë werkloosheid wat strukturele kwessies is wat nie oornag opgelos gaan word nie. Dít, tesame met korttermyn-faktore soos hoër rentekoerse en inflasie maak dat huishoudings se besteebare inkomste steeds krimp.
Die Reserwebank het al in November 2021 begin om rentekoerse te verhoog om stygende inflasie te probeer hokslaan.
Die prima uitleenkoers staan nou op 11,75% teenoor die 7% voordat die siklus van verhogings begin het. Die rentekoersverhogings het verbandkoste aansienlik laat toeneem: Iemand met 'n R1 miljoen-verband wat oor 20 jaar terugbetaalbaar is, se maandelikse paaiement het oor die afgelope twee jaar met meer as R3 000 toegeneem.
Die nominale waarde van residensiële verbande wat toegestaan is, het in die eerste nege maande van 2023 met 22% geval teenoor dieselfde tydperk in 2022, lui die Rode-verslag.
Die jongste syfers van Lightstone Property, 'n maatskappy wat spesialiseer in eiendomspryse en gereeld peilings doen onder verkoopsagente, toon dat die eiendomsoordragte onder eerstekeer-huiskopers in 2023 met meer as 40% gedaal het.

Siphamandla Mkhwanazi, eiendomsekonoom by FNB, sê in 'n nota dat jonger huiskopers swaarder getref word deur rentekoersverhogings en die swak ekonomie. Verkoopsvolumes in die R500 000-pryskategorie was in die derde kwartaal van 2023 byna 25% laer as dieselfde tydperk in 2022. Mkhwanazi sê ouer individue met 'n sterker balansstaat is beter gepantser teen hoër rentekoerse en 'n ekonomiese afswaai.
FNB meen die vooruitsig van effens laer rentekoerse later vanjaar kan help om verbandaansoeke en eiendomspryse te help stabiliseer. Maar Lamprecht meen Suid-Afrikaners moenie reken op enige reële huisprysgroei in die afsienbare toekoms nie.
Eiendomsagente wat aan Lightstone se peiling deelgeneem het, skryf die druk waaronder huispryse verkeer toe aan bykomende faktore soos desperate verkopers, min nuwe ontwikkelings, woonbuurte wat verval en onveilig word, swak munisipaliteite en misdaad - benewens die stygende rentekoerse wat vraag demp.
Lamprecht sê voornemende huiskopers skram reeds weg van eiendom in stede en dorpe met wanfunksionele munisipaliteite.
"Jy kan jou voorstel wat dit gaan doen aan die waarde van bates in daardie munisipaliteite."
Huise wat onafhanklik of gedeeltelik onafhanklik van Eskom se kragnetwerk is en wat boorgate of ander onafhanklike waterbronne het, sal teen 'n hoër prys verkoop kan word.
Suid-Afrikaners koop hier:
Die semigrasie-neiging - waarin mense van Gauteng uitwyk na ander dele van die land - het die afgelope jaar voortgeduur. Lightstone se data toon:
• 1 971 huishoudings het die afgelope jaar eiendom in Gauteng gekoop;
• 1 034 het eiendom in KwaZulu-Natal gekoop; en
• 6 406 het eiendom in die Wes-Kaap gekoop.
Maar wat die volume van verkope betref, voer Gauteng steeds die botoon. Vier woonbuurte daar het die afgelope jaar die meeste verkope behaal. Hulle is:
• Impumelelo in Sedibeng: 2 121;
• Bryanston in Johannesburg: 907;
• Sky City in Alberton: 822;
• Waterkloofrif in Pretoria: 724.





















