Na aanleiding van die besluit deur die Reserwebank om die repokoers met 25 basispunte te verlaag, sê Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group, in 'n verklaring hoewel die koersverlaging verwelkom word, is dit teleurstellend dat die bank die geleentheid vir 'n skerper besnoeiing om die ekonomie te stimuleer, gemis het.
Daar was meer as voldoende redes vir die bank om 'n verlaging van 50 basispunte te verskaf, en dit is kommerwekkend dat dit lyk asof die bank 'n valkagtige houding inneem, veral omdat die Amerikaanse federale bank 'n koersverlaging van 50 basispunte gekies het. Inflasie is binne die bank se teikenbestek, die geldeenheidvooruitsigte het verbeter asook die ekonomiese aanwysers.
Seeff sê dit is eenvoudig onaanvaarbaar aangesien die ekonomie en eiendomsmark baie meer nodig het. "Ons kan eenvoudig nie aanhou om die rentekoers so lank so hoog te hou nie," vervolg Seeff. "Dit is teenproduktief vir groei in 'n tyd wanneer die ekonomie 'n hupstoot broodnodig het."
Verbandterugbetalings sal danksy die rentekoersverlaging soos volg verminder:
- R750 000-verband - van R8 128 tot R7 998 - bespaar R130
- R900 000-verband - van R9 753 tot R9 598 - bespaar R155
- R1 000 000-verband - van R10 837 tot R10 664 - bespaar R173
- R1 500 000-verband - van R16 256 tot R15 996 - bespaar R260
- R2 000 000-verband - van R21 674 tot R21 329 - bespaar R345
- R2 500 000-verband - van R27 093 tot R26 661 - bespaar R432














