Huisagente - veral vroue - gaan altyd blootgestel en uitgelewer wees weens die aard van hul beroep, sê Yael Geffen, voorsitter van Lew Geffen Sotheby's International Realty.
Spesifiek wanneer agente 'n toonhuis alleen moet beman of afsprake blind moet maak met 'n vreemde persoon vir 'n huisbesoek.
"Huisagente werk meestal alleen weg van die veilige omgewing van hul kantore af," sê sy.
"En ook, as hulle 'n toonhuis hou, adverteer hulle hulself daar buite aan die wêreld. Dit stel hierdie mense geweldig bloot.
"Die meeste misdade teen huisagente is gevalle van opportunisme," verduidelik sy. "Daarom is dit so belangrik dat ons stappe doen om hierdie kwesbaarheid te verminder, en hulle te help om hulself beter te kan verdedig sou hulle hulself in 'n moeilike situasie bevind."
Daar was byvoorbeeld onlangs 'n voorval in Port Elizabeth waar 'n agent by 'n toonhuis as gyselaar aangehou is.
Geffen doen 'n paar voorstelle aan die hand hoe agente hulself kan beskerm in die werkplek.
1. Berei jouself voor: Maak eers deeglik seker van hoe veilig die area is waarheen jy gaan.
Kennis is jou eerste linie van verdediging. En moet ook nie enige sigbare juwele dra nie, dit mag net die aandag trek van ongure karakters.
2. Bel 'n vriend: Vra 'n kollega om saam met jou te gaan, veral as jy 'n nuwe persoon moet ontmoet of 'n leegstaande eiendom moet besoek.
3. Sê vir iemand: Laat altyd die kantoor weet wat jou bewegings gaan wees en waarheen jy op pad is. In 'n noodgeval kan so 'n persoon jou lewenslyn word om die owerhede betyds te verwittig.
4. Stel kantoorreëls op:Werk saam met jou agentskap om 'n stel veiligheidsreëls of protokolle op te stel vir jul kantoor.
Dit moet veral inteken-prosedures behels sodat almal kan weet as iemand uitgaan na 'n kliënt, en weer terugkom.
So 'n stelsel help ook dat iemand voortdurend so 'n rooster sal monitor, en vinnig ongerymdhede kan raaksien.
5. Gebruik jou slimfoon slim: Gebruik 'n app wat jou ligging aan ander gekose mense kan meedeel.
Sorg dat jou foon altyd volgelaai is, en oorweeg 'n gratis app soos Namola wat jou 'n noodnommer bied om te bel as jy in gevaar is.
6. Gaan kliënte vooraf na: Al is jy hoe besig, doen eers jou navorsing oor nuwe kliënte voordat jy hulle gaan besoek. Maak seker hulle is wie hulle voorgee om te wees.
7. Dra identifikasie: Dis 'n goeie idee om altyd wanneer jy iemand besoek, 'n naamplaatjie om die nek te dra. Dit lyk nie net professioneel, maar wys ook aan omstanders dat jy 'n agent is wat op 'n amptelike besoek is.
8. Vertrou jou instinkte: As iets nie reg voel nie, maak eerder spore of herskeduleer die afspraak sodat jy meer opleeswerk oor die persoon kan doen.
9. Veiligheidsopleiding: Volg 'n veiligheidskursus wat nie net selfverdedigingsklasse aanbied nie, maar ook klem lê op omgewingsbewustheid en konflikresolusie.
Hou iets soos pepersproei byderhand.
Dit als sal jou nie net meer selfvertroue gee nie, dit sal jou ook help om moeilike situasies beter te hanteer.
10: Kies 'n veilige plek: Dis altyd 'n goeie idee om iemand liewer by 'n koffiewinkel te ontmoet as 'n leegstaande eiendom. Kies 'n bekende plek.
11. Wees slim met skouhuise:Verkry die steundienste van 'n veiligheidsgroep as jy 'n skouhuis in 'n moeilike area moet hou, of gaan maak kennis met die veiligheidsdienste van die veiligheidskompleks as jy binne so 'n kompleks 'n skouhuis moet aanbied.
12. Hou jou motor eksie-perfeksie: Sorg dat jy altyd 'n vol tenk brandstof het, parkeer in goed beligte areas, en wees bedag daarop as jy deur 'n veiligheidshek ry dat niemand op jou stert deurglip nie.
13: Bou 'n netwerk: Gesels met ander agente oor hul ervarings, en wat hulle gedoen het om uit 'n moeilike situasie te kom.















