Ekonomie

3 topposte in tesourie gevul

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Gallo Images / Brenton Geach
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Gallo Images / Brenton Geach

Die tesourie het drie nuwe aanstellings gedoen in die poste van adjunk-direkteurs-generaal.

Die drie is Ulrike Britton, Ogalaletseng Gaarekwe en Christopher Axelson.

Britton is die nuwe adjunk-direkteur-generaal van openbare finansies. Gaarekwe is as adjunk-direkteur-generaal vir interregeringverhoudinge aangestel, en Axelson is permanent aangestel in die pos waarin hy sedert 2023 waarneem, naamlik adjunk-direkteur-generaal van belasting en finansiëlesektorbeleid.

Axelson is die groentjie onder die drie wat betref wanneer hulle hulle by die tesourie aangesluit het, hoewel hy al 'n openbare persoonlikheid ontwikkel het as die tesourie se kundige oor belastingkwessies. Dit is omdat hy gereeld die direkteur-generaal van finansies moet vergesel na sittings van die parlement se finansiële komitees om vrae oor die belasting-aspekte van die begroting te beantwoord.

Axelson het in 2012 by die tesourie begin werk ná 'n loopbaan in die banksektor. Hy is aangestel as direkteur van persoonlike inkomstebelasting en spaar, en is in 2018 bevorder tot hoofdirekteur van ekonomiese belastingontleding.

Britton het in 2006 by die tesourie begin as senior begrotingsontleder in die afdeling vir openbare finansies. Sy het later gevorder tot waarnemende hoof van beleidskoördinering in die kantoor van die direkteur-generaal.

Gaarekwe het op haar beurt in 2009 by die tesourie begin as begrotingsontleder in die direktoraat van interregeringverhoudinge. Sy het tot onlangs ook waargeneem in die pos wat sy nou permanent beklee.

Sy was voorheen in die Vrystaatse provinsiale tesourie.

-francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM