
Die staat het al R73 miljoen bestee aan deportasies in die lopende boekjaar - en dis reeds 322% meer as in die hele 2022-'23-boekjaar.
Met toenemende oproepe vir die beveiliging van die land se grense om onwettige immigrasie te stuit, het die departement van binnelandse sake se besteding aan deportasies die hoogte ingeskiet.
Luidens 'n geskrewe parlementêre antwoord van dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, in reaksie op 'n vraag van Lerato Ngobeni, ActionSA-LP, is daar 'n lang lys uitgawes by deportasies betrokke.
Ngobeni het gevra vir 'n uiteensetting van die departement se jaarlikse besteding aan deportasies sedert die 2016-'17-boekjaar.
Van die 2016-'17-boekjaar tot die boekjaar tot einde Maart vanjaar was die gemiddelde jaarlikse besteding aan die deportasie van onwettige immigrante sowat R31 miljoen.
Die jaarlikse bedrag het oor die jare baie gewissel, maar nooit veel meer as R50 miljoen beloop nie.
Met die inperkings vir die Covid-19-pandemie het dié besteding egter getuimel.
In vier opeenvolgende boekjare - van 2019-'20 tot 2022-'23 - het die departement elke boekjaar minder as die vorige boekjaar aan deportasies bestee.
In die 2022-'23-boekjaar het besteding tot sy laagste vlak vir dié tydperk getuimel tot net R17 miljoen.
Met die laaste van die inperkingsmaatreëls wat met die aanvang van die 2023-'24-boekjaar gestaak is, het die departement se besteding in dié boekjaar met 216% opgeskiet.
In die boekjaar tot op hede is besteding reeds 34% hoër as in 2023-'24, met nog drie maande van die boekjaar oor.

Aanhouding
Die koste om 'n onwettige immigrant te deporteer sluit in vervoer-, aanhouding-, onderhoud- en toesigkoste.
In 'n afsonderlike geskrewe antwoord op 'n vraag van Busaphi Machi, IVP-LP, sê Schreiber dit is belangrik om deportasies so gou moontlik af te handel.
Die departement doen dit tans binne 10 dae sedert die onwettige immigrant in aanhouding geneem is "aangesien die koste ophoop hoe langer hulle in aanhouding bly".
Om geld te bespaar, het die departement het 10 busse en vragmotors gekoop wat sedert November gebruik word om onwettige immigrante te deporteer, eerder as om busdienste te kontrakteer, sê Schreiber.
Die geld om dié voertuie aan te koop, kom uit die herwinningsrekening vir strafregtelik-verbeurde bates.
Die geriewe wat die departement gebruik om onwettige immigrante aan te hou en te verwerk voordat hulle gedeporteer word, is lank deur wanbesteding, mishandeling, korrupsie en bedrog geteister.
Schreiber sê die Lindela-geriewe word nou in samewerking met organisasies sonder winsbejag bestuur.
So 'n organisasie help die departement met die skoonmaak daarvan, sonder dat dit die departement geld kos.
Daar is nie amptelike statistieke oor hoeveel onwettige immigrante daar in die land is nie.
Die Verenigde Nasies het wel in 2020 geraam dat daar in daardie stadium meer as 3 miljoen onwettige immigrante in Suid-Afrika was.
- william.horne@24.com
















