Die internasionale kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings is nie gerusgestel deur die nasionale begroting wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is nie.
"Ons bly minder optimisties daaroor dat die staatskuld besig is om te stabiliseer," sê Thomas Garreau, Fitch se direkteur van staatskuld, en van sy kollegas in 'n verklaring.
Die rede hiervoor is dat Fitch verwag dat die regering van Transnet se skuld gaan oorneem.
Die begroting wys 'n verbintenis daartoe om die begrotingstekort te laat krimp en om te keer dat staatskuld toeneem.
Dié fiskale konsolidasie vind tipies plaas deur staatsbesteding in toom te hou en/of staatsinkomste te verhoog, byvoorbeeld met hoër belastings.
Fitch sê die begroting hét die verskil tussen sy eie vooruitskatting oor die begrotingstekort en dié van die regering verklein.
Die vlak van staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) bekommer Fitch egter omdat sy vooruitskattings wys dat dit oor die volgende twee jaar gaan bly toeneem.
Die nasionale tesourie se verwagting is dat dit teen die einde van die komende boekjaar op 76,2% van die BBP gaan stabiliseer.
Piek hoër en later
Fitch verwag egter dat dit eerder in dié boekjaar 78,8% gaan bereik en dat dit in die daaropvolgende boekjaar tot einde Maart 2027 'n piek van 79,1% gaan bereik - heelwat hoër as wat die tesourie verwag.
Die tesourie verwag dat die staatskuld-tot-BBP-verhouding in die boekjaar wat nou einde Maart eindig, 76,1% gaan beloop, terwyl Fitch meen dit gaan 77% wees.
"Dit kan positief wees vir die staatskuldgradering indien dié skuldpad wel verloop soos wat die regering verwag," lui Fitch se verklaring.
Onsekerheid
Die begroting is in Februarie uitgestel omdat die vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) Enoch Godongwana, minister van finansies, se voorstelle verwerp het, spesifiek om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met 2 persentasiepunte te verhoog.
"Die vertraging dui op spanning en verskillende prioriteite in die koalisie. Ten spyte daarvan bly die owerheid verbind tot fiskale konsolidasie, wat die risiko vir Suid-Afrika se kredietgraderingstatus behoort te verlaag, mits 'n begroting deur die parlement aanvaar word wat breedweg ooreenstem met die een wat 12 Maart voorgelê is.
"Dit is egter onseker gegewe dat die DA, die tweede grootste lid van die RNE, gesê het hy gaan nie die begroting in sy huidige vorm ondersteun nie."
Begrotingstekort
Die fiskale tekort het groter geword sedert die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober uitgereik is.
Dit is nou nader aan wat Fitch verwag.
"Dit weerspieël grootliks dat die bestedingsrisiko wat ons voorheen geïdentifiseer het, 'n werklikheid geword het, asook die laer BBP-groei, wat gesamentlik besteding met 1,1 persentasiepunte in verhouding tot die BBP gaan verhoog in die boekjaar tot einde Maart 2026."
Dit is hoofsaaklik weens die loonooreenkoms met staatsamptenare, hoër infrastruktuurbesteding en groter toedelings aan gesondheid, onderwys en verdediging.
Die hoër besteding val saam met maatreëls wat die regering verwag inkomste met 0,8 persentasiepunt in verhouding tot die BBP sal verhoog in die volgende twee boekjare. Dit sluit in die 0,5 persentasiepunt-verhoging in BTW in elk van die volgende twee boekjare, en die persoonlike-inkomstebelastingkerwe wat nie vir inflasie aangepas is nie.
Verskil van Oktober
Die tesourie se vooruitskatting vir die algehele begrotingstekort in verhouding tot die BBP is tussen 0,2 persentasiepunt en 0,3 persentasiepunt groter oor die volgende drie jaar as wat in die MTBR voorspel is.
Die verwagting is egter steeds dat dit sal begin afneem van die 5% van die BBP wat vir 2025 verwag is.
Die tesourie s'n stem nou ooreen met Fitch s'n vir die boekjaar wat nou eindig en vir die volgende een.
Fitch verwag egter 'n effens groter begrotingstekort van 4,1% in verhouding tot die BBP in die boekjaar tot einde Maart 2027 as die regering se 3,8%.
Die rede vir die verskil is omdat Fitch 'n laer reële groei in die BBP van 1,3% in daardie jaar verwag teenoor die regering se 1,7%.
Garreau sê die groeivooruitskatting het 'n groter kans om laer te wees weens die probleme wat die VSA se handelstariefverhogings kan meebring.
Transnet die stok in die wiel
Fitch glo die regering gaan van Transnet se skuld oorneem, wat die verhouding van staatskuld tot BBP met sowat 0,7 persentasiepunt gaan verhoog.
"Uitgesluit Transnet en inaggenome die aankondiging oor die hersiening van Eskom se skuldoordrag, is ons verwagting dat die skuld-tot-BBP-verhouding einde Maart vanjaar 76,6% gaan wees en 77,8% in die komende boekjaar."
Die verskil tussen sy en die tesourie se vooruitskattings spruit uit Fitch se laer vooruitskatting vir die primêre begrotingsurplus en die nominale BBP-groei.
- nellie.brand@media24.com















