Die grootste stad in Suid-Afrika word oorstroom met vullis en rommel, met sy vier stortingsterreine wat binne twee jaar vol gaan wees.
Dit is reeds 'n krisis, het die Johannesburg-metro se direkteur vir afvalbestuur, Makhosazana Mjali, Dinsdag in die parlement gesê.
Sy het saam met amptenare van die munisipaliteite van Tshwane (Pretoria) en Mangaung (Bloemfontein) aan die parlement se portefeuljekomitee oor bosbou, visserye en die omgewing 'n oorsig gegee oor hul onderskeie vullis-krisisse.
Johannesburg se 2,2 miljoen huishoudings genereer 1,6 miljoen ton vullis per jaar, en net 18% daarvan word herwin of herkanaliseer. Die munisipale onderneming Pikitup moet dus sowat 1,4 miljoen ton se vullis per jaar êrens stort. Maar die metro se vier stortingsterreine gaan binne die volgende twee jaar hul kapasiteit bereik, het Mjali gewaarsku.
Uitdagings vir Johannesburg sluit in 'n toename in afvalvolumes weens vinnige bevolkingsgroei, maar krimpende ruimte om dit te stort.
Swak bewustheid en swak wetstoepassing, asook swak dienslewering in informele nedersettings, lei tot 'n toename in die onwettige storting van vullis.
Volgens Mjali ondersoek Johannesburg verskeie alternatiewe opsies om vullis te verwerk. Benewens 'n aanleg wat 7 MW elektrisiteit kan opwek deur metaangas uit stortingsterreine te verbrand, word alternatiewe afval-tot-energieprojekte ondersoek.
Tshwane het te min geld en te min personeel
Dinge lyk nie juis beter by die ander twee munisipaliteite wat Dinsdag voorleggings aan die komitee gedoen het nie.
Dr. Abel Malaka, hoof van afvalbestuur by Tshwane, sê dié metro het ook vier stortingsterreine in bedryf wat vinnig besig is om vol te raak.
Die Soshanguve- en Bronkhorstspruit-terrein gaan binne die volgende drie jaar vol wees. Die Ga-Rankuwa- en Heatherly-terrein het nog onderskeidelik 12 en 13 jaar se plek vir vullis oor. Dit is op grond van 'n raming wat in Junie verlede jaar gedoen is, en 'n nuwe raming gaan volgende maand gedoen word.
Tshwane ly egter ook onder onwettige storting, veral op onbenutte stukke grond en in informele nedersettings.
Tshwane bestee R11 miljoen per maand om die stortingsterreine te bestuur, vir 'n totaal van R137 miljoen per jaar in die 2023-'24-boekjaar.
Malaka meld dat tot ses vullisterreine al gesluit moes word omdat hulle vol is, maar daar is probleme om die nodige lisensies of permitte te kry rakende die bestuur van die geslote terreine.
Malaka kla daar is te min geld en te min personeel om die stortingsterreine reg te bestuur. Diefstal en vandalisme het gelei tot ondoeltreffende toegangsbeheer. In sommige gevalle is al die heinings om die terreine verwyder.
Tshwane oorweeg dit om private stortingsterreine te koop, en bestaande terreine se grense uit te brei om die kapasiteit te verhoog.
Volgens Malaka is kritieke ingrypings nodig om afvalbestuur te verbeter. Dit sluit in hoe om informele afvalsorteerders te hanteer. Dit is mense wat op straat en by stortingsterreine deur vullis gaan om herwinbare materiaal te vind.
Mangaung wil besetters verwyder en reguleer
Amptenare van die Mangaung-metro kla ook hulle het te min mense. Uit die 789 poste in die afdeling vir afvalbestuur is daar net 514 aktiewe personeellede, met 'n koers van vakante poste dus op 45%.
Daar is slegs 14 voertuie wat help met vullisverwydering en eintlik het die metro 40 voertuie nodig. Gevolglik is die oortydbegroting jaarliks gou uitgeput.
Volgens die Mangaung-amptenare noodsaak dit hulle om eksterne diensverskaffers te betaal om met vullisverwydering te help.
Jaarliks word tussen R30 miljoen en R40 miljoen bestee aan die eksterne diensverskaffers.
Mangaung het ook die probleem van informele afvalsorteerders wat selfs plakkershutte binne die stortingsterreine bou en daar vuur maak. Mangaung is besig met regstappe om dié onwettige besetters te verwyder. Die metro wil egter die mense reguleer om hulle toe te laat om slegs bedags die terrein te betree en saans weer uit te gaan.
Die probleem is ook dat werkers by die stortingsterreine gemiddeld 55 jaar oud is, en die helfte is op die punt om af te tree.
- francois.williams@24.com



















