Ekonomie

Grootbaas van Rupert-groep glo SA sal 2026 van gryslys kom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jannie Durand, Remgro-hoof, is deel van die sakesektor se vennootskap om die regering te help met sy pogings om van die sogenaamde gryslys verwyder te word.  Foto: Youtube/Skermgreep
Jannie Durand, Remgro-hoof, is deel van die sakesektor se vennootskap om die regering te help met sy pogings om van die sogenaamde gryslys verwyder te word. Foto: Youtube/Skermgreep

Baie mense sal dit eers glo wanneer hulle dit sien, maar Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, is optimisties Suid-Afrika kan teen aanstaande jaar van die gryslys van lande wat nie op 'n voldoende wyse ingryp om geldwassery te bekamp nie, verwyder word.

Suid-Afrika is reeds meer as twee jaar gelede deur die Finansiële Aksietaakmag (FTAF), waarvan hy 'n lidland is, amptelik by dié lys gevoeg ná 'n ongunstige evaluering in 2019.

Dit beteken onder meer dat dit moeiliker is om buitelandse markte te betree en laat gevolglik ook buitelandse beleggings afneem.

Wesenlike vordering

Durand sê egter Suid-Afrika maak wesenlike vordering voor 2026 se nuwe evaluering en wil teen Oktober vanjaar verskeie strafregtelike sake in dié verband begin vervolg.

Hy is die medevoorsitter van Business for South Africa (B4SA) se sogenaamde teenmisdaad-en-korrupsie-werkgroep, 'n vennootskap tussen die sakesektor en die regering om hulpbronne op verskeie gebiede met mekaar te deel.

"Verskeie projekte vind tans plaas om die vervolging van finansiële misdadigers te ondersteun," het Durand Maandag op Remgro se kapitaalmarkdag in Somerset-Wes gesê.

"Byvoorbeeld, 'n digitalebewyse-eenheid is gestig wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal help om slimfone en rekenaars deeglik te ontleed sodat mense vervolg kan word."

Die werkgroep is ook besig om finansieel te help om 'n bykomende eenheid te stig wat die NVG spesifiek sal ondersteun met die voorbereiding van dossiere en om aanklaers oor daardie sake in te lig.

Botsende belange

Durand erken wel daardie kapitaalinspuitings gaan op 'n baie sorgvuldige wyse moet geskied sodat daar nie later enige vrae ontstaan oor moontlike botsende belange nie.

"Altesaam 20 sake word tans vir vervolging oorweeg, waarvan vier spesifiek binne die komende maande op die hofrol kan verskyn.

"Ons hoop werklik dit is 'n wesenlike bewys aan die wêreld dat Suid-Afrika proaktief optree en moontlik gereed is om binnekort van die gryslys verwyder te word."

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM