Prokureursfirmas en eiendomsagentskappe is as die sondaars uitgesonder wat kan veroorsaak dat Suid-Afrika sukkel om van die internasionale gryslys te kom van lande wat nie genoeg doen om geldwassery en die finansiering van terreur te bekamp nie.
Dié firmas en agentskappe is van die bedrywe buite die tradisionele finansiëledienstesektor waaroor ook toesig gehou moet word om bogenoemde te bekamp.
Sekere bedrywe buite die finansiële sektor is in die Wet op die Finansiële-intelligensiesentrum (FIS) as riskant geïdentifiseer en moet hulle by die FIS registreer sodat oor hulle toesig gehou kan word.
Die internasionale waghond oor geldwassery en die finansiering van terreur, die Financial Action Task Force (FATF), het Suid-Afrika aan die begin van 2023 op die gryslys van lande geplaas wat nie genoeg doen om dié misdaad te voorkom nie.
Suid-Afrika het onlangs terugvoering gekry dat hy aan nog twee van die 22 take van die aksieplan moet voldoen om van die gryslys af te kom.
Volgens Christopher Malan, hoof van nakoming en voorkoming by die FIS, het Suid-Afrika nog nie ten volle voldoen aan die vereiste om die toesighouding oor sekere nie-finansiële bedrywe te verbeter nie.
Hy sê dit is hoofsaaklik omdat prokureurs en eiendomsagentskappe nog net 70% van die vereiste opgawes oor hul risiko en nakoming by die FIS ingedien het. Prokureurs het al 11 351 opgawes en eiendomsagentskappe 6 506 ingedien.
Volgens hom beskou die FIS prokureurs en eiendomsagente as die aangewese nie-finansiële bedrywe met 'n hoër risiko op grond van 'n ontleding van Suid-Afrika se risiko vir geldwassery en die finansiering van terreur.
Hulle is dus aan strenger toesighouding onderworpe.
Ander nie-finansiële bedrywe wat by die FIS moet registreer, is diensverskaffers aan trusts, insluitende boekhouers en handelaars wat edelstene en -metale verkoop, insluitende Krugerrande, asook ander goedere van groot waarde.
"Hoewel die groot fokus op eiendomsagente en prokureurs is, moet die ander aangewese nie-finansiële bedrywe ook dringend hul uitstaande opgawes by die FIS indien."
Malan sê dit is noodsaaklik dat die aangewese nie-finansiële bedrywe nader aan 100% kom van die opgawes wat hulle moet indien.
Die FIS gebruik die opgawes om 'n beter idee te kry van wie groter toesighouding vereis.
Die FIS het in 2023 'n direktief uitgereik waarin die bedrywe wat geïdentifiseer is gevra is om hul opgawes in te dien. Die opgawes kan aanlyn op sy webtuiste ingedien word.
Malan sê alle aangewese nie-finansiële bedrywe moet nou volgehoue nakoming toon.
" 'n Baie hoër vlak van nakoming word vereis, al was daar 'n opkoms deur die meeste spelers in die aangewese bedrywe om die gebrekkige nakoming van Suid-Afrika in dié opsig te takel deur opgawes in te dien."
Malan sê indien die inligting nie verkry word nie, kan die FIS net aanneem dat diegene wat nie die vereistes nakom nie, 'n hoër risiko het om misbruik te word vir geldwassery of vir terreurfinansiering.
















