Die kredietgraderingsagentskap Moody's het Dinsdagaand laat bevestig hy hou Suid-Afrika se skuldgraderings op dieselfde vlak, en sy vooruitsig word ook op "stabiel" gehandhaaf.
Die kredietgradeerder grond sy besluit op sy volgehoue vertroue in die doeltreffendheid van die kern-instellings in Suid-Afrika soos die regbank, die Reserwebank, en 'n veerkragtige finansiële stelsel.
Moody's het sy gradering van Suid-Afrika op Ba2 behou - dit is steeds onder beleggingsgraad, en dus nog rommelstatus.
Moody's se besluit volg op dié van sy eweknie Standard & Poor's Global Ratings wat in November wel sy vooruitsig vir Suid-Afrika se skuldgradering van stabiel na positief verbeter het.
Moody's was nie so rojaal nie, en meen sy gradering is 'n erkenning van die chroniese uitdagings wat die land se uitgebreide ongelykheid inhou wat vordering met hervormings belemmer en maatskaplike onrus stook.
Moody's verwys na die relatief hoë en duur skuldlas van die regering, en volgehoue strukturele beperkings op ekonomiese groei.
Moody's neem kennis van die regering van nasionale eenheid (RNE) se verbintenis tot volgehoue hervorming en erken die vordering in die energiesektor. Maar Moody's verwag slegs 'n matige versnelling in ekonomiese groei.
Dit volg op die jongste BBP-syfers wat wys die ekonomie het in die derde kwartaal met 0,3% gekrimp vergeleke met die tweede kwartaal. Ekonome was verras deur die syfer.
Die stabiele vooruitsig - wat impliseer dat Moody's nie sonder meer met sy volgende hersiening van die gradering 'n op- of afwaartse skuif daaraan sal maak nie - weerspieël volgens die agentskap sy verwagtinge van lae ekonomiese groei, 'n stabilisering van staatskuld teen sowat 80% van die BBP, en gebalanseerde risiko's.
Moody's verwag wel die RNE sal met strukturele hervormings voortgaan en bottelnekke vir groei effe uit die weg ruim, wat langsamerhand tot 'n groeikoers van nader aan 2% kan lei. Moody's verwag die BBP-groeisyfer kan oor die volgende twee jaar tot 1,7% vorder van vanjaar se 1,1%.
Moody's meen hy sal eers 'n opgradering oorweeg as Suid-Afrika aansienlik vorder om strukturele beperkings op ekonomiese aktiwiteit op te hef, en as staatskuld afneem.
Maar as die groeivooruitsigte verder versleg en die hervormings misluk om die energie- en logistieke sektor te verbeter, sal hy 'n afgradering oorweeg.
Die tesourie het Dinsdagaand gesê hy neem kennis van Moody's se besluit om die land se graderings onveranderd te hou.
"Die regering verwelkom Moody's se erkenning dat die RNE strukturele hervormings sal najaag en groei-bottelnekke sal versag. Die regering volg beleid wat snelle, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei sal bereik. Ekonomiese hervormings begin vrugte afwerp; elektrisiteitsbeskikbaarheid het verbeter; die logistieke stelsel stabiliseer en die koste om sake te doen neem af in sekere dele van die ekonomie," lui die tesourie se kommentaar.
Volgens die tesourie verander die regering die manier waarop infrastruktuurprojekte voorberei en gelewer word. Die tesourie meld ook dat hy hulpbronne van die private sektor mobiliseer om die staat se vermoëns te verbeter.
In dié opsig is vordering egter gebrekkig, met Transnet en die Filippynse maatskappy ICTSI wat hul vennootskap om die Durbanse Pier 2-houereindpunt te bestuur tans in die hof moet verdedig teen die Deense verskepingsreus Maersk.
























