Ekonomie

Net motorhandelaars is optimisties oor saketoestande

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Chinese motorvervaardiger GWM het ’n nuwe dieselweergawe van sy Tank 300-sportnutsvoertuig in Suid-Afrika bekend gestel. Motorhandel was die enigste sektor in die BEO en RMB se sakevertrouensindeks wat in die eerste kwartaal hernude optimisme get
Die Chinese motorvervaardiger GWM het ’n nuwe dieselweergawe van sy Tank 300-sportnutsvoertuig in Suid-Afrika bekend gestel. Motorhandel was die enigste sektor in die BEO en RMB se sakevertrouensindeks wat in die eerste kwartaal hernude optimisme get

Die sakesektor is in groot mate pessimisties oor die huidige saketoestande in die land, toon die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) en RMB se jongste indeks van sakevertroue.

Ná drie agtereenvolgende stygings was die indeks in die eerste kwartaal van vanjaar op 45 indekspunte.

'n Lesing van 45 beteken 'n effense meerderheid van respondente oor verskeie ekonomiese sektore heen is pessimisties oor saketoestande in die land.

Die indeks is wel bo die gemiddelde langtermynlesing van 43 punte en ver bo die vlak aan die begin van verlede jaar, maar die BEO meen dis kommerwekkend dat vier van die vyf sektore wat gemeet word, verswakte sakevertroue aangeteken het vergeleke met die vierde kwartaal van 2024.

Dis slegs motorhandelaars wat 'n styging, met 29 punte, in vertroue aangeteken het. Die sakevertroue van ál die ander sektore het gedaal.

Die peiling vir die indeks is van 5 tot 24 Februarie gedoen en die meeste reaksies is vroeg in hierdie tydperk ontvang. Dit beteken baie van die insette is ontvang pas nadat pres. Donald Trump van Amerika aangekondig het hy skort Amerikaanse hulp aan Suid-Afrika op.

Dit het straks min regstreekse impak op die sektore in die peiling, maar dit is volgens die BEO 'n teken van verdere agteruitgang van die reeds stram handelsbande tussen die twee lande.

Die kommer is waargeneem in van die kommentaar van die respondente wat gesê het hulle is bekommerd oor die voortsetting van die Agoa-handelsooreenkoms.

Respondente in die konstruksiebedryf was veral bekommerd oor die sluiting van ArcelorMittal SA se langstaalfabrieke en die algemene swak vraag in die plaaslike ekonomie.

Die meeste reaksies is ontvang voordat die Februarie-begroting uitgestel is.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM