Kaapstad se strategie vir ekonomiese groei het mylpale in drie sektore - mariene vervaardiging en skeepsbou, klerevervaardiging en die groenekonomie - behaal.
James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei in die Kaapse metroraad, sê in 'n verklaring dié prestasie beklemtoon die impak van geteikende beleggings, ontwikkelingsprogramme wat op die arbeidsmag gerig is en sterk vennootskappe met bedryfsleiers.
Die grondslag van die sukses lê in die metro se program waarvolgens finansiering aan sektor-spesifieke inisiatiewe verskaf word in samewerking met organisasies soos Blue Cape, die Cape Clothing and Textile Cluster en GreenCape.
Onder die resultate wat dié vennootskappe tot gevolg gehad het sluit in:
• Mariene vervaardiging: Meer as 300 luukse bote is in Kaapstad gebou, wat die stad volgens Vos as 'n wêreldleier in skeepsbou vir ontspanningsdoeleindes vestig. Dié sektor dra jaarliks R4,7 miljard tot die plaaslike ekonomie by;
• Klerevervaardiging: Kaapstad het vanjaar 389 miljoen kledingstukke vervaardig wat die oplewing van die bedryf ten toon stel en Suid-Afrika as 'n vertroude verskaffer posisioneer. Dié sektor voeg R5,6 miljard tot die Kaapse ekonomie; en
• Die groenekonomie: Hernubare-energiemaatskappye in Kaapstad het beduidend gevorder in die lewering van 4 GW se projekte in die openbare en private sektor vir die 2024-'25-boekjaar, wat 'n geraamde belegging van R100 miljard verteenwoordig.
Volgens Vos toon dié resultate wat moontlik is wanneer die regering en die bedryf saamwerk. "Deur strategiese vennootskappe te kweek en die fasilitering van beleggings te prioritiseer, het ons 'n omgewing geskep waar besighede en geleenthede floreer. Dit is ongelooflik vervullend om te sien hoedat die pogings op ware voordele vir die mense van Kaapstad uitloop."
'n Blik op die toekoms
Vos beskou die mylpale as die grondslag vir voortgesette vordering. "Ons is vasbeslote om voort te gaan om ons vennootskappe te versterk, ons arbeidsmagprogramme voort te sit en beleggingsondersteuning te verhoog om volgehoue groei en voorspoed vir Kapenaars te verseker," het hy gesê.
Kaapstad se ekonomiese storie is volgens Vos een van samewerking en transformasie. Deur plaaslike regering, die private sektor en gemeenskapsleiers te verenig, stel die stad nuwe maatstawwe vir sukses.
















