Sakevertroue het sedert Februarie momentum verloor, maar die syfer vir Mei is beter as vir April en ook beter as vir Mei 2024.
Die maandelikse indeks van sakevertroue van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) beloop nou 115,8 punte.
Dié indeks verskil in metodologie van die kwartaallikse indeks van sakevertroue wat RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch uitgereik het. En tog is die boodskap baie dieselfde: Enige herstel in sakevertroue blyk broos te wees.
Die SAKKN se indeks meet 14 veranderlikes. Vergeleke met verlede jaar het agt van hulle verbeter - insluitend aandeelpryse, oorsese toeriste, inflasie, motorverkope en die goud- en platinumprys.
Ses veranderlikes het verswak, insluitend uitvoer, vervaardiging en konstruksie.
Die SAKKN sê Suid-Afrikaners se welstand is afhanklik van ekonomiese groei, 'n herstel in sake- en verbruikersvertroue en werkskepping.
Verskeie plaaslike en internasionale "afleidings" - soos die begrotingskrisis en pres. Donald Trump se invoertariefoorlog - benadeel die ekonomie en ondernemings, sê die sakeliggaam.





















