Ekonomie

Solidariteit ‘verskerp’ aanslag teen transformasiefonds van R100 mjd.

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Parks Tau, minister van handel,nywerheid en mededinging, glo die sogenaamde transformasiefonds is deel van die regering se grondwetlike plig om ekonomiese inklusiwiteit te bevorder.  Foto: Argief
Parks Tau, minister van handel,nywerheid en mededinging, glo die sogenaamde transformasiefonds is deel van die regering se grondwetlike plig om ekonomiese inklusiwiteit te bevorder. Foto: Argief

Solidariteit het 'n aanmaning aan Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, gestuur oor die beplande stigting van 'n sogenaamde transformasiefonds van R100 miljard wat hy as "nóg 'n verrykingskema vir die politieke elite" bestempel.

Tau het aan die einde van Januarie gemoedere oor dié voorgenome fonds, wat beoog om groter, gevestigde ondernemings te dwing om 3% van hul nabelaste winste by te dra, probeer kalmeer deur aan te kondig dat 'n openbare konsultasieproses eers sal plaasvind.

‘Katalisator vir verandering'

Die transformasiefonds sal uitsluitlik ondernemings onder swart beheer bystaan met skuldverligting en toelaes en word, volgens Tau, as 'n "katalisator vir verandering" bestempel om Suid-Afrika se grondwetlike verbintenis tot ekonomiese inklusiwiteit te bevorder.

LEES OOK |Transformasiefonds: Rolspelers kan insette lewer, sê minister

Maar dié plan is vanuit verskeie oorde veroordeel as juis teenstrydig met sekere klousules van die Grondwet en ook weens die moontlikheid van korrupsie en wanbestuur.

‘Voorliefde vir raswette'

Solidariteit meen die regsproses teen die voorgenome fonds moet "verskerp" word en is 'n verdere voorbeeld van "die ANC-regering se voorliefde vir raswette wat teen minderhede in Suid-Afrika diskrimineer".

"Ons is een van die lande ter wêreld met die hoogste werkloosheidsyfers en met die meeste rasdiskriminasiewette," sê Anton van der Bijl, adjunk-bestuurshoof van Solidariteit.

"Ons regering bedink elke dag iets nuuts om ons land internasionaal nog meer ongewild te maak. Nou word daar besluit om dit nog moeiliker vir Suid-Afrikaanse maatskappye te maak om te oorleef deur hierdie verpligte fonds te stig. As dit nie so tragies was nie, kon dit sekerlik as 'n grap afgemaak word."

Gevolge

Tau het benadruk die R100 miljard wat ingevorder moet word, is 'n teiken wat teen 2029 bereik moet word.

Maatskappye wat nie tot die fonds bydra nie, kan boetes opgelê word en verhinder word om met die staat sake te doen.

Solidariteit skryf in sy aanmaning aan Tau dat die transformasiefonds onregverdigbaar en ongrondwetlik is.

"Ons sal alles moontlik doen om hierdie rasfonds ter wille van ons land te beveg," sê Van der Bijl, wat ook dreig dat die organisasie verdere internasionale druk sal uitoefen op die regering.

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM