Ekonomie

S&P hou SA gradering onveranderd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika se kredietgradering by alle groot kredietgradeerders is onder beleggingsgraad. Foto: Getty Images.
Suid-Afrika se kredietgradering by alle groot kredietgradeerders is onder beleggingsgraad. Foto: Getty Images. (James Leynse)

Die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor's (S&P) het sy gradering vir Suid-Afrika se staatskuld onveranderd gehou.

S&P het ook sy vooruitsig vir die gradering op positief behou.

Die tesourie het Vrydagaand laat gesê hy neem kennis van S&P se besluit.

Volgens die kredietgradeerder is sy besluit gegrond op die redelik groot en gesofistikeerde finansiële stelsel in Suid-Afrika wat genoegsame kapitaal beskikbaar het vir die regering om te leen.

Suid-Afrika het ook nog relatief sterk instellings met goeie wigte en teenwigte, soos die Reserwebank.

S&P verwag dat ondanks die derde poging om 'n begroting in die komende week in te dien en die waarskynlike verwydering van die BTW-verhoging, sal die tesourie voortgaan met fiskale konsolidasie.

Die agentskap waarsku wel dat die gradering geknou word deur die lae BBP per capita en lae ekonomiese groeikoers, tesame met die hoë vlakke van staatskuld en groot begrotingstekorte.

S&P verwag die regering se groeistrategie sal voortgaan om te fokus op sy poging om lewenskoste te verlaag en beleggings te lok deur sy hervormings.

Moody's hou gradering in Desember onveranderd

Die kredietgradeerder Moody's het in Desember verlede jaar ook besluit om sy gradering op Suid-Afrikaanse staatskuld onveranderd te hou. Maar sy vooruitsig vir die gradering is op "stabiel" behou teenoor S&P wat sy gradering vir Suid-Afrika in November van "stabiel" na "positief" verbeter het.

Die gradeerders se vooruitsigte is aanduidend van die verwagte tendense vir hul moontlike volgende graderingsbesluite. Banke en ander finansiers hou kredietgradeerders se graderings fyn dop om te bepaal hoe riskant of veilig dit is om in regerings of ander instellings se effekte te belê.

Moody's was in Maart ná die tweede begrotingspoging nog optimisties dat die regering van nasionale eenheid wel daardie begroting sou goedkeur, en dat die regering met fiskale konsolidasie sou voortgaan.

Moody's het die afgelope week sy gradering vir Transnet verlaag weens kommer oor sy likiditeit, maar die vorige week die Kaapstad-metro se gradering verbeter op grond van die munisipaliteit se planne vir infrastruktuurbelegging.

Die gradeerder Fitch het ook in Maart sy kommer uitgespreek oor staatskuld weens die las wat Transnet daarop kan hê as die regering sou besluit om van Transnet se skuld oor te neem.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM