Miljoene Suid-Afrikaners hou asem op oor die besluit van die Reserwebank Donderdagmiddag oor rentekoerse.
Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee maak die middag bekend of hy die repokoers verander of nie.
Die komitee vergader elke twee maande om te besluit wat die repokoers moet wees. Dit is die interbankkoers wat bepaal teen watter koers banke geld van mekaar leen, en op grond daarvan bepaal die banke wat die prima uitleenkoers is wat hulle hef op mense wat geld by hulle leen. Dit bepaal ook die rentekoers wat hulle betaal aan mense wat kontant by banke belê in vasterenterekeninge.
Die repokoers staan tans op 7,5% en die prima uitleenkoers op 11%. Die repokoers is in Maart onveranderd gelaat.
Die vakverbond Cosatu en die eiendomsgroep Seeff het Woensdag vir oulaas gesmeek dat die Reserwebank die repokoers moet verlaag om 'n blaaskans aan skuldbelaaide werkers te bied en om die eiendomsmark te stimuleer.
Die meeste ekonome meen ook die Reserwebank het nou meer ruimte as voorheen om koerse te verlaag danksy laer inflasie en 'n sterker rand-dollar-wisselkoers.
Cosatu wys daarop dat inflasie nou ruim onder die onderste vlak van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% is. Die Reserwebank se inflasieteiken is al gekritiseer dat dit te wyd is en nie ruimte laat vir meer buigsaamheid wat rentekoerse betref nie.
Samuel Seeff, voorsitter van Seeff, sê 'n rentekoersverlaging van 25 basispunte, tot 7,25%, sal baie welkom wees, maar minstens 50 basispunte, wat die koers tot 7% sal bring, sal 'n onmiddellike inspuiting van ekonomiese vertroue gee wat die ekonomie aan die gang kan skop.
Die eiendomsmark sal ook voordeel trek uit 'n stewiger rentekoersverlaging. Die eiendomsektor se verkoopsvolumes is nog onder die vlakke van voor die Covid-19-pandemie, volgens Seeff.
'n Stewiger rentekoersverlaging sal nuwe huiskopers na die mark lok, wat opsigself 'n belangrike vermenigvuldigingseffek in die ekonomie het, sê Seeff.
Geloofwaardigheid
Albert Botha, hoof van vaste-inkomste by die batebestuurder Ashburton Investments, het in 'n verklaring gesê die Reserwebank het die nodige geloofwaardigheid om nou teen die neiging van die Amerikaanse Federale Reserweraad op te tree. Met stygende inflasie in Amerika is die Fed nou in 'n posisie waar hy eerder briek aandraai met rentekoersverlagings. Tot nou toe het die Reserwebank soos talle ander sentrale banke wêreldwyd die Fed se voorbeeld nagevolg. Maar Botha glo dis nou tyd vir die Reserwebank om meer onafhanklik op te tree deur rentekoerse te verlaag.
Ekonome van Bank of America het ook Woensdag aangevoer hul aanwysers dui op ruimte vir die Reserwebank om sy beleid te verslap deur koerse te verlaag. Dié ekonome, asook Absa se ekonomiese span, verwag wel albei dat die Reserwebank vanjaar rentekoerse twee keer met 25 basispunte elk kan verlaag tot op 7%.
Andiswa Nondudule, ekonoom by Absa, verwag die Reserwebank kan Donderdag die repokoers tot 7,25% verlaag, en dan in Julie verder tot 7%. Maar sy verwag nie verdere verlagings vir die jaar nie weens die onsekere ekonomiese omgewing.
- francois.williams@24.com
















