Hy sidder om te dink dat die sluiting van die staalfabriek van ArcelorMittal SA (Amsa) by Newcastle in KwaZulu-Natal tot die verdwyning van 'n dorp kan lei, sê dr. Azar Jammine, hoofekonoom van Econometrix.
Hy het op 'n webinaar oor die impak van Amsa se fabrieksluitings gesê die voorgenome sluiting van die Newcastle-aanleg kan vernietigend wees vir die dorp omdat dit so 'n groot plaaslike werkgewer is. Dit sal R859 miljoen se verlore salarisse meebring, asook R3,6 miljard in verlore plaaslike verkryging.
Amsa het Vrydag aangekondig die fabrieke sluit einde April.
LEES OOK | Langverwagte ramp tref: Amsa sluit langstaalfabrieke finaal na laaste geskarrel misluk
Tot 30% van die land se staal kom van Amsa, met geen plaaslike alternatief daarvoor nie.
Dit sal sy kliënte van duur invoer afhanklik maak, wat hul pogings vir plaaslike vervaardiging en lokalisering kelder.
Amsa se besluit het volgens hom egter 'n lang aanloop. Staalvervaardiging in Suid-Afrika is tans 40% minder as in 2006 en die bydrae van yster- en staalvervaardiging tot die BBP het van 0,8% in 2010 tot 0,3% in 2023 gekrimp.

Kapasiteit groei ondanks laer vraag
Die afname in staalvervaardiging het begin lank voordat die ekonomie sedert 2012 begin verswak het. Volgens Jammine het staatskaping 'n groot rol gespeel in die swakker presterende ekonomie.
Tog het staalvervaardigingskapasiteit oor die afgelope dekade met 25% gegroei ondanks dalende plaaslike verbruik. Die oorkapasiteit het druk op pryse, winsmarges en balansstate geplaas.
Nou ly die konstruksie-, vervaardiging-, mynbou- en motorbedryf daaronder. Van die staalmeulens word teen net 50% tot 55% van hul kapasiteit bedryf, en sommige so laag soos 42%, wat onvolhoubaar is.
"Suid-Afrika het sy eie ystererts, so ons is veronderstel om 'n mededingende voordeel te hê, maar ons het nie."
Enorme stygings in insetkoste
Daarby kom die enorme stygings in insetkoste vir plaaslike staalmeulens, met elektrisiteitskoste wat van 2010 tot 2023 met 256% gestyg het en grondstofkoste wat 56% hoër is.
Amsa is van Transnet afhanklik vir 91% van sy ystererts en 100% van die kookssteenkool wat na Newcastle vervoer moet word en hy ly dus onder Transnet se logistieke ondoeltreffendheid.
Maar dan het die regering ingemeng in die voorkeurprysstelsel en die uitvoerbelasting op skrootmetaal in 'n poging om klein staalmeulens te ondersteun. Dit het volgens Jammine die ongelykheid vergroot en tot werkverliese gelei.
Van 2009 tot 2024 het die staalbedryf 25 000 poste verloor.

Staatsingrypings verwring mark
Volgens Jammine het die regering se ingrypings die mark verwring en kleiner staalmeulens bevoordeel ten koste van die groter meulens.
Uitvoerbelasting en die kosmetiese afdruk van skrootmetaalpryse het skrootherwinning negatief geraak.
Tot 90 000 insamelaars van skrootmetaal se lewensbestaan word bedreig. Die volume van skrootuitvoer het van 1,8 miljoen ton in 2012 tot 156 000 ton in 2022 gekrimp.
Jammine waarsku daar is te veel sub-ekonomiese mini-staalmeulens in 'n oorversadigde mark en meer van hulle sal genoop wees om te sluit.
Benewens die 3 400 regstreekse poste by Amsa wat verlore gaan, kan 60 000 tot 80 000 bykomende poste nasionaal verlore gaan weens die impak op die hele waardeketting.
Jammine gee toe al die blaam kan nie op die voorkeurprysstelsel en die uitvoerbelasting op skroot geplaas word nie, maar daar is geen twyfel dat dit bygedra het nie.
"Ons moet ernstig dink om van die maatreëls wat 'n ongelyke speelveld geskep het, om te keer."
Komponente sal ingevoer word
Renai Moothilal, uitvoerende hoof van die Nasionale Vereniging van Motorkomponent- en Verwante Vervaardigers (Naacam), sê die gevaar van die sluiting vir komponentvervaardigers is dat daar besluit kan word dat komponente voortaan eerder in geheel ingevoer moet word, pleks van om die staal in te voer om komponente plaaslik te vervaardig.
China, Indië en Japan het almal die soort tegnologie wat Amsa se Newcastle-aanleg gebruik en daardie lande oorheers ook die motoruitvoerbedryf.
Gooi geld na die probleem?
Donald Mackay, hoof van XA Global Trade Advisors, sê wat kommer wek, is dat dit lyk asof die regering meen hy kan net geld gooi na 'n probleem, soos die feit dat teen einde Januarie verneem is die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het R380 miljoen aan Amsa gegee sodat die langstaalfabrieke wat hy wil sluit, nog 'n maand oop kan bly.
"Ons kan nie die regering kry om maatskappye te betaal om oop te bly nie. óf die fabrieke moet sluit óf van die mini-staalmeulens moet verdwyn óf nuwe staalvraag moet asof met 'n towerstaf geskep word. Maar iets sal moet meegee."
-francois.williams@24.com





















