Ekonomie

Tekstielbedryf in SA: ‘Invoertarief het bedryf gehelp’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Foto van ’n tekstielfabriek in Durban in 2000. Foto: Gallo
’n Foto van ’n tekstielfabriek in Durban in 2000. Foto: Gallo

Die 45%-handelstarief wat Suid-Afrika op die invoer van klere geplaas het, het in die afgelope jare gehelp om die bedryf in Suid-Afrika weer aan te wakker.

So sê Irshaad Kathrada, uitvoerende hoof van die Localisation Support Fund, in 'n gesprek oor die impak van tariewe op die plaaslike tekstielbedryf.

"Die vervaardiging van klere is 'n besonder arbeidsintensiewe proses. Die vervaardiging van 1 miljoen kledingstukke kan tot 400 volhoubare werksgeleenthede in Suid-Afrika skep," sê Kathrada.

Kathrada noem hoe die klerebedryf in Suid-Afrika in 'n stadium gefloreer het, maar geleidelik begin kwyn het namate goedkoper klere uit lande soos Viëtnam, Kambodja en Bangladesj die mark oorgeneem het.

Suid-Afrika se vernaamste kleremaatskappye het toenemend klere begin invoer eerder as om dit plaaslik te vervaardig.

Om die plaaslike bedryf te beskerm en die speelveld gelyk te maak, het die regering in 2009 'n handelstarief van 45% op ingevoerde klere ingestel.

En dit het gewerk.

Volgens Kathrada word meer klere plaaslik vervaardig, met Foschini wat byvoorbeeld 50% tot 60% van sy klere plaaslik vervaardig.

Namate Suid-Afrikaners hul eie, unieke modestyl ontwikkel het, het dit ook strategies meer sin gemaak om produkte plaaslik te vervaardig. Dit bring vervaardigers nader aan die eindverbruiker, veral aangesien die aanlooptye vir invoer uit Asië dikwels lank en onvoorspelbaar kan wees.

Die kortingsgerief

Hoewel die tarief die plaaslike bedryf bevoordeel, erken die regering dat Suid-Afrika se klerebedryf nog nie die vermoë het om aan alle markbehoeftes te voldoen nie.

Om hierdie uitdaging te hanteer, het die regering 'n kortingsgerief ingestel wat verligting bied vir sekere invoer wat nie plaaslik vervaardig kan word nie.

Kathrada het onthul dat daar wel verskeie strategiese planne is om die plaaslike tekstielbedryf verder uit te brei. Groot kleinhandelaars soos die TFG-groep, Mr Price, Woolworths en Pick n Pay is reeds betrokke by hierdie inisiatiewe.

"Ons doelwit is om binne die volgende vyf jaar 32 produkkategorieë wat tans nie in Suid-Afrika vervaardig word nie, plaaslik te begin vervaardig. Dit verteenwoordig ongeveer 75 miljoen artikels wat in Suid-Afrika vervaardig sal word," sê hy.

Kathrada voeg by dat hulle ook 'n verskuiwing na die gebruik van plaaslike, volhoubare tekstiel, soos hennep, voorsien as alternatief vir ingevoerde katoen.

Die kostebalans

Chinese e-handelaars soos Shein en Temu is sedert verlede jaar ook onderhewig aan die 45%-invoerbelasting plus BTW.

Kort ná hierdie aankondiging het verbruikers 'n versoekskrif aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gerig waarin hulle pleit dat hierdie e-handelaars nie hoër belas moet word nie.

Die petisie voer aan dat Temu en Shein bekostigbare produkte aan Suid-Afrikaners bied wat nie "duurder" plaaslike produkte kan bekostig nie.

LEES HIER | Jou pakkie van Temu en Shein word duurder, maar dit gaan die ekonomie help

"In Suid-Afrika betaal ons inderdaad effens meer vir klere weens die tarief, maar in ruil daarvoor word ongeveer 100 000 werksgeleenthede geskep, hoofsaaklik vir vroue in ons gemeenskappe," sê Kathrada.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM