Ekonomiese kommentators is maar skepties oor en verveeld met pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede.
Daar is niks regtig gesê wat die markte gaan roer nie, sê Peter Armitage, uitvoerende hoof van Anchor Capital.
Dat die ekonomie teen 3% en meer moet groei om armoede en ongelykheid uit te wis, word weerspreek deur die werklikheid; "die somme daarvoor werk nie uit nie".
Volgens Armitage is die staatsrede gelewer "vir Ramaphosa se kiesers". Die versekering dat die staat steeds in beheer sal bly van sekere bates, soos die spoorlyne en hawens, is bedoel as 'n "gerusstelling".
Hy meen die verskillende fondse wat beoog word vir infrastruktuurontwikkeling kan beter aangewend word deur dit aan die private sektor oor te laat om vry en sonder beperkende regulasies hul werk te doen.

Obsessie met G20
Volgens Armitage het dit gelyk asof Ramaphosa eerder 'n obsessie het met die feit dat Suid-Afrika aan die stuur is van die G20-groepering te midde van aanvalle deur pres. Donald Trump van Amerika.
Die grootste nuus uit die staatsrede is volgens hom dus die besluit om afvaardigings na die ander G20-lande en die res van Afrika te stuur om Suid-Afrika se beleid te gaan verduidelik en verdedig.
Prof. Jannie Rossouw, besoekende dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, sê die toespraak was "teleurstellend", onnodig lank en "onsamehangend".
Rossouw sê hy het meer van Ramaphosa verwag, en meen te min erkenning is aan die regering van nasionale eenheid gegee.
3%-groei
"Daar sal groei wees, maar niemand weet presies waar die groei vandaan gaan kom nie," sê Rossouw.
Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het die verbintenis tot vinniger ekonomiese groei wat werk skep, verwelkom.
"Die Suid-Afrikaanse ekonomie is inderdaad mettertyd in staat tot baie hoër ekonomiese groei as 3% as die regte keuses gedoen word. Die huidige trae en ongelyke ekonomiese herstel demonstreer nietemin die mate waarin versnelde strukturele hervormings dringend nodig is as Suid-Afrika teen 2027 groei van 3% wil haal."
Parsons sê die staatsrede erken dat die sakesektor op 'n groter skaal betrek moet word. Hy sê "strenger skedules" sal help om die groter besteding aan infrastruktuur wat in die staatsrede uitgelê word, te behaal.
Transformasiefonds
Rossouw is ook erg skepties oor die transformasiefonds van R20 miljard per jaar oor vyf jaar wat in die staatsrede genoem is.
Volgens hom klink dit soos 'n uitvloeisel van die uitsprake van Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, dat daar 'n bykomende belasting van 3% op maatskappye gehef moet word om dié transformasiefonds te finansier.
Dit is volgens Rossouw nie Tau se rol om nuwe belastings aan te kondig nie.
Munisipaliteite misluk
Rossouw is wel positief oor Ramaphosa se plan om munisipaliteite te probeer regruk. Die erkenning dat munisipaliteite misluk, is boonop 'n erkenning van die ANC se mislukkings, aangesien die meeste munisipaliteite onder die ANC se bestuur is.
Hy is egter skepties oor die hersiening van die finansieringsmodel vir munisipaliteite. "Dit help nie om nog geld na die probleem te gooi nie. Dit is 'n bestuursprobleem en die regte mense moet na die probleem gegooi word."
Paspoorte
Oor die digitale visumaansoekstelsel wat Ramaphosa genoem het, sê Rossouw wat klaar sal help, is bloot om net mense in die land toe te laat met wettige paspoorte. As dié sonder wettige paspoorte uitgehou word, is daar 2 miljoen mense wat nie in die land moet wees nie.
Armitage meen daar is nie juis iets nuuts in die staatsrede nie en niks omstrede is gesê nie.
Niks is genoem van die eintlike aspekte van die Nasionale Gesondheidsversekering wat die markte bekommer nie.
Trump-bestand
Parsons sê as 'n klein, oop ekonomie moet Suid-Afrika sy kaarte slim speel en die ekonomie so "Trump-bestand" as moontlik maak.
"Die ekonomie moet mededingend bly om sowel die risiko's as geleenthede van 'n verskuiwende geopolitieke scenario te hanteer."
Beleidsekerheid is noodsaaklik om beleggersvertroue te bevorder.
- francois.williams@24.com





















