Energie

2de besending Chinese hulp vir kragkrisis ontvang

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van die toerusting wat deur China geskenk is. Foto: X/Dr. Kgosientsho Ramokgopa
Van die toerusting wat deur China geskenk is. Foto: X/Dr. Kgosientsho Ramokgopa

Suid-Afrika het Dinsdag die tweede besending energie-toerusting ontvang wat deur die Chinese regering geskenk is.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, het in 'n plasing op X gesê dit is onder meer diesel-kragopwekkers en fotovoltaïese kragstelsels vir die berging van elektrisiteit.

"Die geskenkte toerusting sal energiedoeltreffendheid verhoog en betroubare energieverskaffing in sommige klinieke en openbare geriewe verseker vir ononderbroke dienslewering aan gemeenskappe," sê Ramokgopa.

Hy het Dinsdag die tweede besending toerusting op 'n oorhandigingseremonie by 'n Eskom-stoorplek in Howick, KwaZulu-Natal, ontvang.

Die skenking vorm deel van die tegniese bystandsprogram wat verlede jaar geïnisieer is ten tyde van pres. Xi Jinping van China se staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Die twee lande het in Augustus verlede jaar 'n samewerkingsooreenkoms onderteken om die land se kragkrisis te takel.

Ramokgopa het vroeër gesê die hulp van China is daarop gemik om 300 tot 400 openbare instellings, soos polisiekantore en hospitale, meer bestand te maak teen beurtkrag.

Die toerusting wat verlede jaar gestuur is, het kragopwekkers, sonpanele en -kragstelsels, batterye en wisselrigters ingesluit. China het ook as deel van die ooreenkoms sy kundigheid aangebied om met die kragkrisis te help.

Die plan was om uiteindelik drie besendings toerusting te stuur.

Die eerste besending is in November 2023 amptelik in ontvangs geneem en het 450 kragopwekkers ingesluit.

Die tweede besending sal toegewys word aan die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes.

Van die toerusting wat die Chinese regering aan Suid-Afrika geskenk het.  Foto: X/Dr. Kgosientsho Ramokgopa
Van die toerusting wat die Chinese regering aan Suid-Afrika geskenk het. Foto: X/Dr. Kgosientsho Ramokgopa

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM