Eskom se kragstasies het die afgelope maand al hoe minder onklaar geraak en dit is een van die grootste redes waarom Suid-Afrika steeds beurtkrag vryspring, al het die winterkoue begin byt.
Die land het op 26 Maart laas beurtkrag gehad.
Terwyl tussen 30% en 35% van Eskom se opwekkingsvermoë voorheen buite werking was omdat dit onverwags onklaar geraak het, is dié syfer nou in die omgewing van 25%. Hoewel dit steeds hoog is, beteken 'n verbetering van vyf persentasiepunte daar is byna 2 500 MW se ekstra krag op die netwerk.
Dít spaar die land meer as twee fases beurtkrag.
Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, sê dit begin lyk of Eskom onklaar kragstasies begin regruk. Hoewel die koue winterweer die land behoorlik in sy greep het - met 'n gepaardgaande styging in die vraag na elektrisiteit - kan die verbetering in Eskom se prestasie 'n stokkie voor beurtkrag steek.
As Eskom se vooruitskouing vir die volgende 52 weke aangepas word vir die ekstra 2 500 MW wat tans beskikbaar is, kan Suid-Afrikaners reken op net twee weke se beurtkrag vir die res van die jaar - die eerste in die week van 23 September en die tweede in die week van 28 Oktober.
Die jongste verbetering kom nadat die syfers reeds begin beter lyk het toe Eskom die drie eenhede van Kusile wat feitlik die hele 2023 onklaar was, laat verlede jaar weer in bedryf gestel het. Dit het reeds 'n verbetering van sowat vyf persentasiepunte meegebring.
Sedert verlede jaar se beurtkrag-nagmerrie het Eskom sowat 5 000 MW ekstra tot sy beskikking om die ligte aan te hou.
Volgens Yelland lyk dit of daar 'n verbetering is in die gehalte van Eskom se instandhoudingswerk. Die kragreus het tevore self gesê eenhede wat reggemaak word, raak dikwels weer kort daarna onklaar.
"Eskom het meer geld beskikbaar en die nasionale tesourie is meer geneë om sy samewerking te gee met aankope. Hulle kan dus onderdele koop en werk nouer saam met die vervaardigers van die oorspronklike komponente."
Die beter vertoning deur Eskom se vloot en die toenemende aantal hernubare-energieprojekte skep boonop meer ruimte vir die kragreus om eenhede uit diens te stel vir instandhouding. Die druk om hulle in bedryf te hou om die ligte aan te hou is nou aansienlik minder, sê Yelland.
Hy meen die tyd sal leer of Eskom die verbetering van die afgelope vier weke kan volhou.
"Ons weet ons kan 'n goeie maand hê - en ons kan 'n slegte maand hê."





















