Die gesegde lui die een se dood is die ander se brood. Diegene in die besigheid van alternatiewe kragverskaffing besef nou die einde van beurtkrag is ook slegte nuus vir hul sake.
Hoewel huishoudings en ondernemings steeds die aptyt het om hulself onafhanklik te maak van Eskom se krag, beleef sonkraginstalleerders landwyd 'n afname in belangstelling.
Jonty Sacks, 'n vennoot by Jaltech wat die afgelope jaar sonpanele geïnstalleer het op die dakke van 160 verskillende kleinhandelaars en fabrieke, sê egter die langtermynwaarde van onafhanklike kragopwekking moet nooit onderskat word nie.
Jaltech het die afgelope jaar sowat R750 miljoen van kleinhandelbeleggers ingevorder om die installasie van sonkrag te finansier. Hulle het byvoorbeeld 'n ooreenkoms met 'n supermark aangegaan om sy dakruimte te gebruik om sonkrag op te wek, wat die supermark dan teen 'n fraksie van Eskom se prys van hulle koop.
Jaltech besit die installasie en die winkelier hoef hom nie oor die tegniese aspekte en instandhouding te bekommer nie.
Veral winkeliers wat meestal bedags krag gebruik, se besparings is drasties. Dit kan so min soos 95c/kWh wees, vergeleke met Eskom se gemiddelde tariewe van tot R3,00/kWh. Munisipaliteite se tariewe is nóg hoër.
Met tyd styg die koste van sonkrag met die inflasiekoers, terwyl Eskom en munisipaliteite se tariewe eksponensieel toeneem. Vanjaar het Eskom sy tariewe met meer as 12% verhoog en in sy jongste tariefaansoek vra die kragverskaffer vir sowat 36% meer vanaf 1 April 2025.
Die vraag na hul sonkragproduk was geweldig groot, sê Sacks. "Ons het nie nodig gehad om te bemark nie. Kliënte was op soek na 'n oplossing vir beurtkrag. Die bemarkingsbegroting was zero!"
Met beurtkrag wat afgeneem het, het die tempo waarteen kwotasies aanvaar word ook ingekrimp.
Ross Mains-Sheard, uitvoerende hoof van Versofy Solar wat sonkrag aan huishoudings verskaf, sê ook daar is 'n aansienlike afname in bestellings.
Versofy Solar maak dit vir huishoudings wat nie die kapitaal het om eensklaps vir sonkrag te betaal nie moontlik om dit aanvanklik te huur en later eienaarskap te kry.
Hoewel die dringendheid op kort termyn weens die beurtkragverligting afgeneem het en verbruikers wat onder ekonomiese druk is hul besluite uitstel, se Mains-Sheard op lang termyn is daar steeds baie belangstelling onder huishoudings om sonkraginstallasies te doen.
Intussen het Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, die afgelope week uitgevaar teen hoë kragkoste en plaaslike kragonderbrekings waar ladingsvermindering toegepas word om toerusting teen oorlading te beskerm.
Ramokgopa erken mense in die laer middelklas en staatsamptenare kan nie meer elektrisiteit bekostig nie en moet kies tussen brood op die tafel of krag. Hy sê hy en sy span werk aan 'n plan oor hoe om probleme in die elektrisiteitsverspreidingsbedryf aan te pak.





















