Energie

Bravo . . . vir minder beurtkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sowat 30% van Eskom se opwekkingsvermoë is steeds op enige gegewe tydstip buite werking omdat opwekkingseenhede onverwags breek.  Foto: Reuters/Siphiwe Sibeko
Sowat 30% van Eskom se opwekkingsvermoë is steeds op enige gegewe tydstip buite werking omdat opwekkingseenhede onverwags breek. Foto: Reuters/Siphiwe Sibeko

Eskom se stelseloperateur wat besluite neem oor wanneer en hoe intens beurtkrag toegepas word, glo beurtkrag gaan in die volgende 52 weke aansienlik ligter wees as wat aanvanklik verwag is.

Dié nuus kom terwyl Suid-Afrikaners die laaste paar dae onder aansienlik minder beurtkrag as die afgelope jaar of wat gebuk gegaan het.

Teen Vrydag het Eskom reeds nege agtereenvolgende dae geen beurtkrag toegepas nie.

Data van die webblad load­shed.theoutlier.co.za toon dat vanjaar se beurtkrag-las tot dusver­ aansienlik ligter is as in die ooreenstemmende tydperk verlede­ jaar (sien grafika).

Volgens Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, is dié verligting te danke aan 'n verskeidenheid faktore, waaronder 'n laer vraag oor die vakansiedae, die normale vermindering van beplande instandhouding dié tyd van die jaar in aanloop tot die winter en 'n klein verbetering in die hoeveelheid opwekkingseenhede wat onverwags breek en buite werking gestel word.

Dié verbetering is grootliks te danke aan drie eenhede van Kusile­, met 'n gesamentlike opwekkingsvermoë van 2 400 MW, wat sedert laat verlede jaar weer in werking is nadat dit meer as 'n jaar in onbruik was weens skade aan hul skoorstene.

Net die drie eenhede by Kusile spaar Suid-Afrikaners minstens twee fases beurtkrag.

Bedags help die groot getal sonpanele wat kraggebruikers geïn­stalleer het om hulle teen beurtkrag te verskans, om die ligte aan te hou, sê Yelland.

Hy waarsku egter dat bykans 30% van Eskom se opwekkingsvermoë steeds op enige gegewe tydstip buite werking is omdat opwekkingseenhede onverwags breek. Eskom sukkel skynbaar om dié syfer noemenswaardig te verlaag.

Die stelseloperateur, wat gewoonlik redelik konserwatief is, het tot sowat drie weke gelede 'n baie pessimistiese prentjie geskets in die vooruitskouing wat Eskom weekliks publiseer.

In die week tot 10 Maart nog is beurtkrag verwag in elk van die volgende 52 weke. Volgens sy beplande risikovlak, wat aanvaar dat 18 200 MW se opwekkingsvermoë uit Eskom se totaal van 48 186 MW buite werking sal wees, sou die kragtekort vir 48 uit die 52 weke meer as 2 000 MW beloop. Dit dui op beurtkrag in fase 2 of hoër.

Die jongste vooruitskouing, wat op data van die week tot 31 Maart gegrond is, toon egter dat selfs met 2 000 MW buite werking weens onverwagte brekasies, drie uit die volgende 52 weke beurtkragvry kan wees, met net 11 weke met fase 2-beurtkrag of hoër.

Yelland sê Eskom gee heeltemal te min inligting oor die prestasies van sy opwekkingsvloot.

"In oorsese lande publiseer hulle die syfers vir elke opwekkingseenheid," sê hy, terwyl Eskom nie eens die prestasie van elke kragsentrale deurlopend bekend maak nie.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, maan dat die meeste ekonomiese modelle prestasie in die verlede gebruik om vooruitskattings te doen.

"Ons het die laaste tyd minder beurtkrag gehad. As hul model só werk, sal dit noodwendig 'n beter vooruitskouing gee."

Hy sê dié meer optimistiese siening sal nie beleggersvertroue, wat tans op 'n laagtepunt is, laat verbeter nie. "Mense wil niks koop nie, hulle wil niks belê nie."

Beleggersentiment word tans geheel en al oorheers deur politieke verwagtinge, eerder as elektrisiteitskwessies, sê Roodt.

  • Die energiereguleerder Nersa het pas die beurtkrag­reëls wat voorsiening maak vir tot 16 fases van beurtkrag goedgekeur. Volgens Vally Padayachee, voorsitter van die bestuurkomitee van die NRS-vereniging van Suid-Afrika wat die reëls opgestel het, gee die versekering dat die uitbreiding van die beurtkragstelsel 'n pro-aktiewe stap is om sekerheid te bring oor die hantering van noodsituasies en menslike foute sover moontlik uit te skakel.
Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM