Onthou jy die "goeie" dae van Desember 2023?
Wel, soos sake tans staan, gaan dit letterlik Kersfees in Julie vir motoriste wees.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê die prys van alle grade petrol sal van aanstaande week na verwagting bykans R1 per liter goedkoper word, terwyl diesel met 30c per liter sal daal.
Sou die Sentrale Energiefonds se nieamptelike data onveranderd bly, beteken dit petrolpryse sal weer Desember se vlakke bereik.
Dit sal ook die eerste keer vanjaar wees dat pryse twee maande agtereenvolgens daal.
Die prys van 95-oktaan-petrol is tans R24,25 per liter in Gauteng en R23,46 aan die kus.
Die groothandelprys van diesel beloop R21,15 per liter in Gauteng en R20,39 aan die kus.
Die AA sê dit is "goeie nuus vir verbruikers, motoriste en die ekonomie", met motoriste wat veral sal baat by die verligting.
Maatskappye se laer vervoerkoste sal hopelik ook pryse by winkels se kasregisters positief beïnvloed.
Die rand se wipplankrit met die dollar het egter nie 'n beduidende invloed op die prysbepalings nie. Trouens, die Sentrale Energiefonds se data toon dit word tans slegs gedryf deur internasionale oliepryse, wat vandeesmaand betreklik bestendig was.
Maar, veral met die oog op 'n nuwe inkomende regering, maan die AA dat rolspelers 'n meer volhoubare manier moet vind om verbruikers teen prysskokke te beskerm. "Anders bly Suid-Afrikaners onderworpe aan die genade van die wisselkoers en oliepryse."
Die aangepaste brandstofpryse sal Woensdag in werking tree.



















