Nadat die dieselprys die afgelope drie maande gedaal het, lyk die vooruitsigte vir Augustus op die oomblik minder rooskleurig.
Daar is tans nog 'n skraal moontlikheid van 'n derde daling in die petrolprys.
Dis nog baie vroeg om te kyk na die verwagting by die vulstasie in Augustus, want die oorsigtyd vir dié maand se brandstofpryse is vyf weke lank. Nog net twee weke is verby.
Nietemin, indien pryse vandag vasgestel kon word, sou 95-oktaan-petrol met sowat 10c per liter goedkoper kon word en 93-oktaan-petrol met 7c per liter.
Diesel met 0,05% swael sou 4c per liter duurder moes word en met 0,005% swael 19c per liter.
Paraffien sou sowat 12c per liter duurder moes word.
Duurder diesel raak meer as net mense met bakkies of viertrekvoertuie. Omdat byna alle verbruikersgoedere padlangs vervoer word, is dit 'n kostedrywer in die hele ekonomie wat as 'n remskoen kan dien vir die verlangsaming in inflasie.
Inflasie het in Mei 5,2% beloop.
Dié betreklik klein oor- en onderverhalings toon dat daar nog heelwat veranderinge kan kom voordat die oorsigmaand op 2 Augustus ten einde loop. Augustus se pryse moet op Woensdag 7 Augustus ingestel word.
Die oor- en onderverhalings meet net die daaglikse wisseling in internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers. In dié stadium is die rand sterker as in die vorige maand en wen dit vir verbruikers tussen 15c en 16c per liter brandstof.
Die prys van brandstof op internasionale markte is egter hoër, wat die rand-voordeel teenwerk.
Die rand het Donderdag die eerste keer sedert 21 Junie sterker as R18 per dollar gesluit, op R17,98, en het Vrydag selfs R17,94 gehaal. Die sterker rand word toegeskryf aan die verwagting dat die VSA se Federale Reserweraad in September op die laatste sal begin om sy rentekoers te verlaag. Die Fed se volgende besluit is op 31 Julie gevolg deur 18 September.
Die Reserwebank besluit reeds volgende week, op 18 Julie, oor Suid-Afrikaanse rentekoerse, wat sedert Mei 2023 onveranderd is.
Verlede week het sowel petrol as diesel goedkoper geword.
95-oktaan-petrol kos nou R23,26 per liter in Gauteng en R22,37 aan die kus.
Die groothandelprys van diesel met 0,05% swael is R20,66 per liter in Gauteng en R19,87 per liter aan die kus, afgerond. Die prys by vulstasies word nie gereguleer nie en kan wissel.



















