Energie

Eskom bestee 70% minder aan diesel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van die dieseltenks by die Ankerlig-kragstasie. Die grootste een sigbaar op dié foto kan 5,5 miljoen liter diesel hou.  Foto: Francois Williams
Van die dieseltenks by die Ankerlig-kragstasie. Die grootste een sigbaar op dié foto kan 5,5 miljoen liter diesel hou. Foto: Francois Williams

Van 1 April tot 11 Julie het Eskom R7,65 miljard minder aan diesel bestee as dieselfde tyd verlede jaar, het die staatsbeheerde kragmonopolie Vrydag gespog.

Teen Sondag het Eskom al 109 dae aangeteken waarin hy nie beurtkrag toegepas het nie. Hiervan is 75 dae wat binne sy winterseisoen val.

Volgens Eskom het hy van 1 April tot 11 Julie R3,33 miljard bestee aan die aankoop van diesel vir sy oopsiklusgasturbine-kragstasies. Dit is die noodkragstasies by Atlantis aan die Weskus en buite Mosselbaai in die Suid-Kaap, asook die dieselkragstasies van private operateurs by wie hy elektrisiteit aankoop.

Dit is sowat 70% minder as die R10,98 miljard wat verlede jaar oor dieselfde tydperk aan diesel bestee is.

Die ladingfaktor van 1 April tot 11 Julie was 5,83%, vergeleke met 21,81% 'n jaar gelede. Selfs in die eerste week of wat van Julie - 1 Julie tot 11 Julie - was die ladingfaktor 2,74%, wat ook veel laer is as die 26,37% van dieselfde tydperk 'n jaar gelede. Dit is selfs te midde van die yskoue weer wat in dié tyd landwyd ervaar is.

Eskom spog dat die mylpaal van 107 beurtkragvrye dae wat teen Vrydag behaal is, op die doeltreffendheid van sy kragopwekkingsherstelplan wat sedert Maart verlede jaar aangepak is.

Volgens Eskom het uitgebreide beplande instandhouding ook meegewerk aan die herstel van kragbeskikbaarheid.

Die vorige tydperk van so 'n lang opskorting van beurtkrag was byna vier jaar gelede tussen 8 September 2020 en 11 Desember 2020.

Eskom se winterplan het 'n verwagte 15 500 MW van onbeplande kragopwekkingverliese en beurtkrag tot 'n maksimum van fase 2 (wanneer sowat 2 000 MW se kragvraag afgesny word) ingesluit. Maar die huidige onbeplande opwekkingsverliese is gemiddeld 12 500 MW sedert die begin van die lopende boekjaar. Teen Vrydag was daar 12 011 MW se opwekking wat onbepland buite werking was, wat aansienlik laer as die winterplan se verwagting is. Die gemiddelde kapasiteit wat onbepland buite werking was in die sewe dae tot en met Vrydag was 11 950 MW, het Eskom gesê.

Eskom gaan voort met beplande instandhouding aan 4 801 MW se opwekkingskapasiteit.

Volgens Eskom beplan hy om teen Maandag 1 436 MW se opwekkingskapasiteit weer aan die kragnetwerk te koppel.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor van Eskom se kragstasies was op 66,44% in die tydperk van 8 Julie tot 11 Julie. Dit is 'n verbetering van 9,44% teenoor die energiebeskikbaarheidsfaktor van 57% aan die begin van die boekjaar op 1 April.

Eskom waarsku egter dat die skerp toename in kragvraag in sekere streke weens die winterkoue wat toeslaan, tot die oorlading van die netwerk kan lei. Dit is veral weens onder meer onwettige kragverbindings, vandalisme, diefstal van toerusting, gepeuter aan kragmeters en die koop van elektrisiteit van ongemagtigde handelaars. Dit veroorsaak dat transformators by substasies oorlaai word en beskadig word. Eskom het vroeër gewaarsku dat hy ladingvermindering in sekere van dié gebiede moet toepas om die streeknetwerk en substasies te beskerm.

Volgens Eskom sal hy op Vrydag 19 Julie weer 'n opdatering van die kragnetwerksituasie gee.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM