Energie

Eskom: Duvha lewer nou 82% van die tyd krag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op die Duvha-kragstasie van Eskom in Mpumalanga.
’n Uitsig op die Duvha-kragstasie van Eskom in Mpumalanga.

Een van die steenkoolkragstasies van Eskom wat in 'n stadium onder die swakstes was wat kragopwekking betref, kon teen Vrydag spog met 'n energiebeskikbaarheidsfaktor van 81,9%.

Die Duvha-kragstasie het Vrydag dié mylpaal behaal, het Eskom in sy nou weeklikse opdatering oor die kragopwekkingsituasie gesê.

Ander kragstasies wat oor die afgelope week 'n gemiddelde energiebeskikbaarheidsfaktor van bo 70% kon handhaaf, sluit Kusile, Majuba en Camden, asook die spitstydkragstasies, in.

Duvha was teen Maart op 'n lys van ses kragstasies wat bykomende bestuursfokus van Eskom ontvang om hul gemiddelde beskikbaarheidsfaktor tot bo 70% te kry.

Teen Maart was daar al aansienlike verbetering by dié kragstasie vergeleke met Maart 2023, behalwe foute wat by die stoomketels opgeduik het.

Die Duvha-kragstasie was al deur diep waters, met een van die opwekkingseenhede wat in Junie 2022 in 'n brand beskadig is, die verkeerde olie wat glo in Oktober 2022 by 'n eenheid gevoeg is, wat ook 'n brand veroorsaak het, benewens twee eenhede by Duvha wat in September 2022 onklaar geraak en tot fase 5-beurtkrag bygedra het.

In Maart verlede jaar het Eskom die mikpunt gehad dat al 14 sy steenkoolkragstasies teen 2025 'n energiebeskikbaarheidsfaktor van meer as 70% sal hê.

Die internasionale standaard is dat 'n kragstelsel 'n beskikbaarheidsfaktor van minstens 86% behoort te hê.

Teen Sondag was Eskom al 193 dae sonder beurtkrag.

Die nutsmaatskappy kan steeds die verwagtinge van sy somerplan handhaaf, met onbeplande kragverliese wat in die afgelope week op 11 181 MW was teenoor 14 743 MW oor dieselfde tydperk 'n jaar gelede.

Die onbeplande kragverliese het oor die week gewissel van tussen 10 700 MW en 11 800 MW per dag, teenoor die basisteiken van 13 000 MW in die somerplan.

Teen Vrydag was die onbeplande verliese op 9 615 MW.

Die totale gemiddelde energiebeskikbaarheidsfaktor by Eskom oor die afgelope week was 61%, en in die jaar tot dusver is dit 63,2%.

Eskom verwag om teen Maandag sowat 4 430 MW se kragopwekkingskapasiteit weer in bedryf te stel. Danksy die versnelde instandhouding, beter samewerking met onderdeleverskaffers en die toewyding van kragstasiebestuurders en hul werkspanne verwag Eskom dat hy dié somer sonder beurtkrag sal wees.

Eskom het die week wat verby is ook aansienlik minder van sy spitstydkragstasies gebruik gemaak, en dieselverbruik is nog onder die begroting vir die jaar tot op datum. Die spitstydkragstasies is van 1 tot 3 Oktober net vir 3,65% van die tyd gebruik, teenoor 8% in dieselfde tyd 'n jaar gelede.

Van April tot verlede week het Eskom R5,92 miljard aan diesel bestee, wat 66% of R11,51 miljard minder is as wat oor dieselfde tydperk bestee is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM