Eskom sê sy begroting vir diesel in die eerste kwartaal van die huidige finansiële jaar (April tot Junie 2024) is R5,8 miljard, en R1,16 miljard is van 1 April tot 9 Mei 2024 bestee. Dit is dus 19,7% van die totale begroting vir die kwartaal.
Die nutsmaatskappy het gereageer op aantygings dat hy kunsmatig die ligte aanhou deur sy dieselaangedrewe noodkragstasies "in die rooi" te bedryf.
Daar heers skeptisisme oor die huidige beurtkrag-blaaskans wat Suid-Afrikaners ervaar.
Dit was Saterdag die 46ste dag sonder beurtkrag.
"In teenstelling met mediaberigte en bespiegelings word Eskom se benutting van oopsiklusgasturbines noukeurig gemonitor, en hul rol is strategies eerder as uitgebreid," lui die verklaring.
André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het die afgelope week beweer die begroting vir dieselaangedrewe noodkrag is vanjaar R24 miljard. "Dit is vier keer soveel as wat ons in 2022 tot ons beskikking gehad het."
LEES OOK |De Ruyter: ‘Dis eintlik my en Jan se plan wat nou beurtkrag beperk'
Dr. Kgosientsho "Sputla" Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het op sy beurt vroeër die week uitgevaar teenoor die skeptisisme.
"Wat ons tans dra, is nie die noodkragopwekkers nie - dis nie diesel wat verbrand word wat ons die vermoë gee om die ligte aan te hou nie. Wat ons tans dra, is die ruggraat van Eskom, die steenkoolkragstasies self."
LEES OOK |Sputla vaar uit: ‘Ek het mos gesê korttermynpyn sal vrugte dra!'
Eskom stel die feite in sy verklaring van Vrydagaand as volg:
• Die voortdurende opskorting van beurtkrag is te danke aan voldoende opwekkingskapasiteit, wat voortspruit uit 'n meer betroubare vloot van opwekkingseenhede;
• Onbeplande onderbrekings het sedert 26 April 2024 met 4 400 MW verminder as gevolg van uitgebreide instandhouding en die sukses van die opwekkings- en bedryfsherstelplan wat in Maart 2023 begin is;
• Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) het beduidend verbeter, en het sedert 29 April bo 60% vertoon en 65% op 1 Mei bereik, met 'n maand-tot-datum-syfer van 63,34%;
• Eskom se vooruitsig vir die winterperiode van 2024 dui daarop dat hy voortgaan om sy kragstasies strategies te benut, insluitend dieselaangedrewe oopsiklusgasturbines. Oopsiklusgasturbines word gedurende oggend- en aandspitstye ontplooi om in die hoë vraag na elektrisiteit te voorsien;
• In April 2024 het Eskom R1,1 miljard aan oopsiklusgasturbines bestee, wat 167,8 GWh opgewek het. Dit is ongeveer 60% minder as in April 2023 toe R3,1 miljard bestee is om 470,22 GWh op te wek;
• Dieselbesteding aan oopsiklusgasturbines toon 'n dalende neiging, met R53,9 miljoen bestee in die eerste nege dae van Mei 2024.





















