Eskom het saam met wetstoepassers gewerk om vandeesweek meer as 35 onwettige transformators in 'n woonbuurt in Diepsloot, Gauteng, te verwyder.
Bewerings van gemeenskapsleiers word ondersoek dat van Eskom se eie werknemers betrokke is in die verkoop van onwettige transformators, het die nutsmaatskappy Woensdagoggend in 'n verklaring gesê.
Volgens Eskom het hy in die vorige boekjaar sowat R5 miljard se inkomste verloor weens "nie-tegniese verliese" - sy eufemistiese benaming vir kragdiefstal, asook weens ander elektrisiteitsverwante misdaad binne sy voorsieningsgebied.
Die kragdiefstal vind onder meer plaas deur onwettige kragverbindings en die omseiling van kragmeters.
Die tendens van transformators wat onwettig verbind word, dra by tot die destabilisering van die kragnetwerk en lei tot gereelde en langer kragonderbrekings, en swakker diens aan betalende kragkliënte, het Eskom gesê.
Die onwettige transformators hou ook groot veiligheidsrisiko's vir Eskom-tegnici in wanneer hulle aan die kragverspreidingsnetwerk moet werk.
Monde Bala, groephoof van distribusie by Eskom, sê hulle het groot waardering vir die samewerking wat die polisie, die Johannesburgse metropolisie, die Rooimiere en ander private veiligheidsmaatskappye, en Eskom se eie beskermingsdienste gegee het in die veldtog om die onwettige transformators te verwyder.

"Sulke ingrypings is noodsaaklik om Eskom se bates te beskerm, openbare veiligheid te verseker en die ernstige kragverliese te beperk wat weens diefstal, vandalisme, onwettige verbindings en meter-omseilings veroorsaak word," het Bala gesê.
Oor die bewerings dat sommige Eskom-werknemers betrokke is in die verkoop van transformators, het Eskom gesê die meeste van sy werkers is toegewyd om hul daaglikse werk te doen en hulle streef daarna om Eskom se vertoning te verbeter.
Maar 'n duidelike standpunt van geen verdraagsaamheid jeens misdaad en korrupsie, word gehandhaaf en gevolglik sal die gemeenskapsleiers se bewerings ondersoek word. Die leiers sal ingelig word oor die uitslag van die ondersoeke sodra dit afgehandel is, het Eskom beloof.
Eskom het alle gemeenskappe gevra om hulle te weerhou van enige onwettige optrede wat elektrisiteit betref, en lede van die publiek is aangemoedig om onwettige verbindings, die omseiling van kragmeters en enige verdagte optrede by die Eskom misdaadlyn, 0800 11 2722, of via WhatsApp by 081 333 3323 te rapporteer.





















