Eskom se plan om dele van die kragnetwerk vir regeringsprojekte te reserveer terwyl die private sektor op die kantlyn wag, sal vordering om sy monopolie op kragopwekking te beëindig ongedaan maak.
Dit sal ook vertroue in die private kragmark knou, meen kenners in die bedryf.
Dié mark kan volgens die maatskappy sonder winsbejag GreenCape oor die volgende ses jaar sowat R214 miljard se beleggings lok en die regering se groenkragaankope verdubbel.
Die energiereguleerder Nersa het 'n aansoek van Eskom ontvang waarin gevra word dat gebiede waar die kragnetwerk beperk is om nuwe kragstasies te koppel, dié beperkte vermoë gereserveer word. Die aansoek dui nie aan watter gebiede ter sprake is nie, maar dit is bekend dat die netwerk in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap feitlik versadig is.
Dit kan beteken dat daar teen onafhanklike kragverskaffers wat krag aan kliënte in die private sektor verkoop, gediskrimineer word ten gunste van dié wat krag aan die staat verkoop. Eskom dui ook nie aan hoeveel vermoë hy wil reserveer of vir hoe lank nie.
Die aansoek kom nadat die regering se vorige aankoopronde vir hernubare energie in 2022 misluk het toe 23 windprojekte nie toegeken kon word nie omdat daar nie netwerkverbindings vir hulle was nie.
Eskom sê in sy aansoek die land het dringend nuwe opwekkingsvermoë nodig, en omdat die regering dit ook makliker gemaak het vir die private sektor om self krag op te wek, moet daar nou meegeding word met private opwekkers wat hul krag regstreeks aan private kliënte verkoop.
Eskom erken dat dit onafhanklike kragverskaffers wat met die private sektor sake doen, sal benadeel, want "openbare onafhanklike kragverskaffers" sal nou na voor in die ry geskuif word waar netwerkverbindings skaars is, en wanneer die regering nog krag van die private sektor wil aankoop, sal netwerkverbindings vir dié aankoopprogramme gereserveer word.
Eskom se plan kan al hoe meer groot gebruikers heeltemal van die netwerk laat onttrek.
Die wet verbied Eskom om party van sy kliënte voor te trek, tensy "objektief regverdigbare en identifiseerbare verskille" dit regverdig.
Ig du Plessis, direkteur van Sonfin, wat hernubare-energieprojekte vir veral die landboubedryf lewer, wys daarop dat wetgewing voorsiening maak vir onafhanklike kragverskaffers vir sowel die openbare as die private sektor.
"Dit is nie vir Eskom om tussen die twee te kies nie," sê hy, en wys daarop enige verandering mag slegs deur die wetgewer gedoen word. Hy meen ook Eskom se plan kan al hoe meer groot verbruikers heeltemal van die netwerk laat onttrek.
Niveshen Govender, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea), sê Nersa se besluit oor die aansoek is bepalend vir die sukses van die regering se volgende ronde van groenkragaankope wat reeds in Desember aangekondig is, maar nog nie verder gevorder het nie.
As dit verkeerd hanteer word, kan dit die geloofwaardigheid en reputasie van die staat en private instellings skaad en die nasionale belang ondermyn.
Die Energie-intensiewe Verbruikersgroep (EIUG), wat groot verbruikers soos myne en nywerhede verteenwoordig en saam sowat 40% van die krag verbruik wat in die land opgewek word, sê baie van sy lede het weens die kragtekort en om weg te beweeg van fossielbrandstof ooreenkomste aangegaan met onafhanklike kragverskaffers vir projekte wat in verskillende stadiums van ontwikkeling is.
Die wyse waarop netwerktoegang verleen word, is van uiterste belang vir die hele hernubare-energiebedryf, sê die EIUG.
"As dit verkeerd hanteer word, kan dit die geloofwaardigheid en reputasie van die staat en private instellings skaad en die nasionale belang ondermyn."
















