Opwekkingsvermoë van net 11 036 MW was Sondag weens onbeplande foute afgeskakel - 'n verstommende verlaging van 4 487 MW teenoor die 15 523 MW op 26 April.
Dis boonop 7 162 MW minder as die tot 18 198 MW wat in dieselfde tyd in 2023 onbeskikbaar was.
Eskom sê dis danksy dié verbetering dat die ligte aan bly sedert beurtkrag op 26 Maart om 05:00 opgeskort is. Maandag is dus die 41ste volledige kalenderdag sonder beurtkrag.
Eskom hou vol dié prestasie word nie ten duurste bereik deur diesel te verbrand nie, maar die nutsmaatskappy gee ook nie volledige syfers nie.
Net die volgende inligting: "Daar was geen toename in die gebruik van die oopsiklusgasturbines vir die eerste week van Mei teenoor die vorige syfers waaroor op 26 April verslag gedoen is nie."
Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) is sedert 29 April hoër as 60%. Dit het op 1 Mei 65% gehaal.
Die EBF is die persentasie tyd wat 'n kragstasie krag opwek oor 'n spesifieke tydperk, oftewel rofweg gestel die persentasie geïnstalleerde opwekkingsvermoë wat wel krag opwek.
Vir 2024 tot op hede staan die EBF op 58,99%, teenoor 53% op dieselfde tydstip in 2023.
'n EBF van 65% was die mikpunt wat vir die einde van die boekjaar (einde Maart) aan die Eskom-direksie gestel is, maar nie gehaal is nie.
Die internasionale standaard is 'n EBF van minstens 75%.





















