Energie

Eskom se nuwe tariefplan ‘sal net sy probleme vererger’ – VL

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Kusile-kragstasie tussen Delmas en eMalahleni in Mpumalanga. Foto: Reuters
Die Kusile-kragstasie tussen Delmas en eMalahleni in Mpumalanga. Foto: Reuters

Eskom se jongste plan om die prysstruktuur van sy kragtariewe te verander sodat die grootste persentasie daarvan uit vaste koste eerder as verbruik bestaan, gaan hom net nog meer kliënte laat verloor, waarsku Vrystaat Landbou (VL).

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Foto: Verskaf
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Foto: Verskaf

Boere betaal reeds geweldig hoë vaste koste, sê Francois Wilken, VL-president, in 'n verklaring. As Eskom se aansoek by die nasionale energiereguleerder, Nersa, slaag om 70% van vaste koste en net 30% gekoppel aan werklike verbruik te verhaal, loop Eskom die gevaar om die landbousektor as kliënt te verloor.

Die vraag na elektrisiteit neem af, wat beteken Eskom verloor betalende kliënte, en dis waarom hy nou sy kostestruktuur so ingrypend wil aanpas, sê Wilken.

Hy wys daarop dat boere benewens hul groot insetkoste onder meer ook help om paaie reg te maak.

"Dit is alles uitgawes waarvoor hulle nie vergoed word nie en tog plaas hulle steeds kos op die land se tafels. Die nuutste poging om meer geld uit verbruikers te pers, is niks anders as blatante oëverblindery nie."

Dit gaan nie Eskom uit die finansiële verknorsing kry waarin hy homself bevind nie, ten spyte van 'n onlangse reddingsboei van die regering, sê Wilken.

LEES OOK | Kragtariefskok dreig vir SA'ners met sonkrag weens nuwe Eskom-plan

Eskom is volgens hom "seker die enigste produkverskaffer ter wêreld" wat 'n sakestrategie volg waarin hy sy kliënte afraai om sy produk te gebruik (ten einde beurtkrag te vermy).

"Die strategie het nou reperkussies en dus moet betalende kliënte weer daarvoor boet. Die uiteinde van hierdie trajek is sleg," sê Wilken.

Die pryse van alternatiewe energie het nou goedkoper as Eskom geword en gebruikers is besig om alternatiewe energiebronne aan te skaf. Om Eskomkrag as rugsteun te hê, het die infasering en finansiering van alternatiewe kragbronne vergemaklik, "maar nou met drastiese prysverhogings op vaste koste en dalk nog koolstof-belastings, gaan kragverbruikers gedwing word om heeltemal van die netwerk af te gaan en daardie mark gaan vir Eskom totaal verlore wees," maan Wilken.

Nie almal kan dit egter bekostig nie weens die koste van battery-stoorvermoë.

Luidens die verklaring betaal ekstensiewe veeboerderye proporsioneel reeds meer aan vaste koste as aan verbruikkoste. Landbouverwerking- en -waardetoevoeging-aanlegte met koelkamers, verhittingstelsels vir intensiewe produksie en klimaatbeheerde stelselboerderye het 'n betroubare en bekostigbare bron van krag nodig om gesonde kos aan die verbruiker te voorsien.

Wanneer Eskom se aansoek by Nersa vir openbare insette oopgestel word, sal VL dit teenstaan.

"Die groot koste-implikasie wat dit sal hê op veral kleiner en intensiewe boerderye en verwerkingsaanlegte wat regstreekse kliënte van Eskom is, sal verhoed moet word," sê Wilken.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM