Eskom het drie kontrakteur-werkers by die Kusile-kragstasie betrap dat hulle diesel gesteel het.
Volgens Eskom is die drie Dinsdagmiddag deur 'n toesighouer betrap waar hulle besig was om sowat 40 liter diesel in twee 20-liter-houers te tap.
Die waarde van die diesel is sowat R1 000.
Die polisie en Eskom-sekerheidsdienste is ontbied en die drie is in hegtenis geneem. 'n Klag is by die Phola-polisiestasie aanhangig gemaak en die drie het Donderdag in die hof in Phola verskyn.
Volgens Eskom is al drie beskuldigdes op borgtog van R500 vrygelaat en is die saak tot 4 September uitgestel.
Botse Sikhwitshi, waarnemende hoofbestuurder vir sekerheid by Eskom, het in 'n verklaring gesê Eskom is sterk gekant teen enige misdaad in sy bedrywighede en sal nie sulke gedrag toelaat nie.
Sikhwitshi het die toesighouer en die sekerheidspan vir hul waaksaamheid geloof.
Volgens hom het Eskom saam met die nasionale energiekrisiskomitee se komitee vir sekerheid reeds positiewe vordering in die kwartaal van 1 April tot einde Junie gemaak met inhegtenisnemings en vonnisse vir misdadigers wat Eskom wil beroof.
Eskom het die publiek aangemoedig om enige inligting oor onwettige optrede insluitend onwettige kragverkope, bedrog, diefstal van steenkool of diesel of enige ander misdaad aan te meld. Inligting kan anoniem aangemeld word by Eskom se misdaadlyn by 0800 11 27 22 of die WhatsApp-nommer 081 333 3323.





















