'n Nuwe ooreenkoms tussen Rural Free State (RFS) en Eskom beteken daar hoef byna geen sonkrag verlore te gaan as beurtkrag weer toegepas sou word nie.
RFS, deel van die private elektristeitsonderneming Rural Maintenance, het in 'n stadium in die hof met Eskom koppe gestamp omdat Eskom hom wou dwing om steeds sy beurtkragskedules in 'n paar dorpe in die Vrystaat toe te pas. Dít al het Rural Maintenance die kragvoorsiening in dié dorpe oorgeneem en al kon hy sonkrag aan dié gebiede voorsien wanneer Eskom nie krag gehad het nie.
Die afdwing van Eskom se beurtkragrooster het die absurde situasie meegebring waar RFS sekere tye oortollige sonkrag gehad het, maar kliënte kon dit nie gebruik nie, want hul kragverbinding moes afgeskakel word.
RFS het 'n kontrak met die Mafube-munisipaliteit, waaronder dorpe soos Frankfort en Villiers val, om die kragverspreiding in die munisipaliteit te bestuur. Hy het ooreenkomste met private sonkragaanlegte in die omgewing by wie krag aangekoop word om die dorpe se kragvoorsiening aan te vul.
Volgens Chris Bosch van Rural Maintenance hoef RFS nie nou beurtkrag toe te pas as sy kliënte voldoende alternatiewe krag het nie.
Die hof het verlede jaar in Eskom se guns beslis, hoewel die saak om 'n tegniese punt gedraai het omdat die Mafube-munisipaliteit nie sy amptelike goedkeuring aan RFS gegee het om in die saak op te tree nie.
Intussen het RFS en Eskom egter tot 'n vergelyk gekom en kon hy self die beurtkragskedule vir die gebied by Eskom oorneem.
Frankfort is volgens Bosch byvoorbeeld in vyf beurtkragsones opgedeel, met twee sones wat grootmaatverbruikers is met hul eie alternatiewe kragbronne.
Hulle is oorgeskuif na RFS se lasinperkingsprojek.
Hulle ervaar volgens Bosch geen beurtkrag nie omdat hulle alternatiewe kragbronne het wat aangeskakel word wanneer Eskom 'n lasverlaging benodig. Frankfort se middedorp is ook deel hiervan.
Tans is net meer as 45% van Frankfort en byna 24% van Villiers se kragverbruikers deel van die lasverlagingsprojek, wat volgens Bosch beteken dat hulle geen beurtkrag ervaar nie.
Met beurtkrag wat nou al 55 dae opgeskort is, beteken dit dat RFS tans bloot minder elektrisiteit van Eskom hoef aan te koop. Die sonkrag wat RFS van private sonkragaanlegte in die omgewing kry, is boonop goedkoper as die krag wat hy van Eskom koop, en kliënte kry die voordeel dat hul tariewe so bekostigbaar moontlik gehou kan word.
Een tameletjie is egter die Mafube-munisipaliteit, wat skynbaar weer die elektriese dienslewering self wil behartig. RFS het al R1,7 miljard se waarde tot die munisipaliteit bygedra, sê Bosch, maar die munisipale bestuur wil glo steeds weer beheer van kragverspreiding oorneem.
Bosch sê hulle wil eerder graag met die munisipaliteit en die Vrystaatse provinsiale regering om 'n tafel sit om te verduidelik hoe ekonomiese groei en werkskepping aangewakker kan word as RFS steeds die kragverspreiding hanteer.
Volgens Bosch wil Rural Maintenance saam met plaaslike boere in die omgewing sonkrag gebruik om hoëwaarde-landbougewasse vir die uitvoermark te verbou.
Deur die bykomende krag te gebruik vir die kweek, oes en verwerking van dié voedselgewasse, kan broodnodige plaaslike werkgeleenthede en buitelandse valuta geskep word, sê Bosch.
Die eerste fasiliteit hiervoor word reeds in Villiers opgerig. Dit behels 'n hidroponika-aanleg, of waterkweking, waardeur landbougewasse gekweek word.





















