Terwyl die meeste kragverbruikers meer vir elektrisiteit betaal sodat Eskom vir groot smelters afslag kan gee, vra dié smelters se bedryfsliggaam nou dat afslagtariewe ook vir ander groot gebruikers soos myne en fabrieke beskikbaar moet wees.
Fapa, die ferro-allooi-produsente se beheerliggaam, sê daar is ook ander maniere om só 'n afslag te finansier.
Eskom het in sy aansoek aan die energiereguleerder Nersa om verhogings van 36% volgende jaar, 11,8% die jaar daarna en 9% in 2027-'28 bekend gemaak dat 10 bykomende afslagooreenkomste met smelters aanstaande jaar in werking tree. Dit is benewens enkeles wat reeds toegestaan is en beteken dat ander kragverbruikers volgende jaar sowat 5,7% meer sal moet opdok vir elektrisiteit.
Eskom raam die afslagverkope aan smelters in die komende boekjaar sal reeds 12% van sy totale plaaslike kragverkope uitmaak. In 2023-'24 was dit 5,6%.
Dié ooreenkomste word aangegaan ingevolge 'n raamwerk wat reeds in 2020 deur die destydse departement van minerale hulpbronne en energie ontwikkel is vir maatskappye wat internasionaal meeding en 'n groot deel van hul koste aan elektrisiteit bestee. Dit is daarop gemik om hul elektrisiteitstariewe te beperk tot 'n vlak waar dit met dié van hul buitelandse mededingers kan vergelyk.
'n Ander oorweging is om dié verbruikers, bekend as basisladingverbruikers, te behou. Sulke verbruikers gebruik tipies dag en nag krag en daardeur help hulle Eskom om die netwerk stabiel te hou. Snags, wanneer huishoudings en ondernemings weinig krag gebruik, is sulke verbruikers 'n afsetpunt vir die krag wat Eskom se kragsentrales dan opwek. Dit help Eskom ook om sy bedryfskoste te dek sodat ander kraggebruikers nie alleen dié las dra nie.
Om vir die afslag in aanmerking te kom, moet die maatskappye bewys dat hulle finansieel swaar trek en instem dat Eskom hul kragtoevoer onder bepaalde omstandighede kan afskakel om die vraag en aanbod van elektrisiteit in balans te hou.
Die smelterbedryf verskaf werk aan goed opgeleide mense en betaal hulle goed.
Die ooreenkomste geld vir 'n spesifieke getal jare en as hulle weer winsgewend word, moet hulle volgens 'n voorafbepaalde formule die wins met Eskom deel.
Fapa het in Nersa se openbare sittings oor Eskom se tariefaansoek gesê sy lede voeg waarde toe tot die minerale wat in Suid-Afrika gemyn word. Die meeste van hul produkte word uitgevoer en verdien dus waardevolle buitelandse valuta vir die land.
"Die smelterbedryf verskaf werk aan goed opgeleide mense en betaal hulle goed," sê Fapa.
Die afgelope 10 jaar het baie smelters egter toegemaak en tans oorleef die meeste net danksy die afslag wat hulle by Eskom kry.
Nellis Bester, die president van Fapa, sê hoewel die afslag help, is dit nie volhoubaar nie.
"Wat gebeur wanneer die afslagooreenkoms tot 'n einde kom?" vra hy.
Hy waarsku die maatskappye sal dan teruggeplaas word op die kragtariewe wat normaalweg sou geld en intussen al verskeie kere verhoog is. Hulle sal sukkel om so 'n prysskok te absorbeer, sê hy.
Fapa stel voor dat die afslagooreenkomste beskikbaar gestel word vir alle basisladinggebruikers wat meer as 'n sekere hoeveelheid elektrisiteit per jaar gebruik. Met die huidige stelsel moet hulle meer betaal om te vergoed vir die geld wat Eskom verloor met die afslag aan die smelters. Dít en die ander subsidies wat groot gebruikers betaal om arm kraggebruikers se tariewe laag te hou, kan die maatskappy ook só benadeel dat hulle self afslagooreenkomste benodig.
Deon Conradie, 'n deeltydse lektor in tariewe by die Wits Sakeskool, het vroeër gesê die afslag aan smelters, soos die kruissubsidie vir arm verbruikers, is die gevolg van beleidsbesluite en vertroebel die berekening van kragtariewe wat kragtens wet beperk moet word tot die koste van lewering plus 'n redelike opbrengs op Eskom se bates.
Dié beleidsbesluite kan deur belastingtoegewings of ander aansporingsmaatreëls finansier word om die las op kraggebruikers te verlig.
Dr. Sputla Ramokgopa, die minister van elektrisiteit en energie, het al herhaaldelik gesê elektrisiteit raak onbekostigbaar en het aangedui dat die regering sal kyk hoe hy die tariefverhogings kan beperk.





















