Energie

Groot chroommyn se krag is nou 44% ‘groen’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bedrywighede van Tharisa Minerals by sy myn in Noordwes.  Foto: Tharisa/Mining Technology
Bedrywighede van Tharisa Minerals by sy myn in Noordwes. Foto: Tharisa/Mining Technology

Die platinum- en chroommynmaatskappy Tharisa het 'n kragversendingsooreenkoms aangegaan om hernubare energie vir sy Tharisa-myn (Tharisa Minerals) in Noordwes te koop.

Die wind- en sonkragaanlegte van waar hy via die kraghandelaar Etana Energy die krag gaan aankoop, sal sorg vir 44% van die kragvraag by die Tharisa-myn, het die groep Donderdag op die JSE se Sens-nuusdiens gesê.

Die ooreenkoms sal 15 jaar geld.

Die wind- en sonkragaanlegte is in die Wes-Kaap en Noord-Kaap, en sal die bestaande transmissienetwerk van Eskom gebruik om die krag te versend. Die myn is naby Rustenburg in Noordwes.

Die elektrisiteit sal volgens plan in 2026 op die netwerk kom.

Volgens Tharisa, wat in Ciprus sy hoofkantoor het, maar op die JSE, die Londense aandelebeurs en die plaaslike alternatiewe A2X-beurs genoteer is, sal die ooreenkoms die Tharisa-myn help om sy kragkoste te bestuur en voordeel te trek uit die groenkragsertifikate wat hy uit die transaksie kry.

Die elektrisiteit wat aangekoop word via die kragversendingsooreenkoms sal aanvullend wees tot die myn se eie sonkragaanleg van 40 MW wat deur die Franse oliereus TotalEnergies se Suid-Afrikaanse groenkrag-afdeling en Chariot Transitional Power ontwikkel word. Dié sonkragaanleg word ontwerp om aan 30% van Tharisa Minerals se kragvraag te voorsien.

Volgens die groep is die belangrikste dat die ooreenkoms met Etana en die sonkragaanleg sal verseker dat Tharisa Minerals sy koolstofvoetspoor teen 2030 met 30% kan verklein. Vanaf 2026 sal tot 76% van Tharisa Minerals se kragvraag dus deur hernubare energie voorsien word.

Etana het in Mei 2022 sy kragverhandelingslisensie gekry. Dit is 25 jaar geldig. Etana is een van vyf maatskappye wat kraghandelaarslisensies in die land het. Etana het ook al ooreenkomste met verskeie ander kliënte beklink. Dit sluit myn- en eiendomsmaatskappye in.

Tharisa was een van die uitblinkers op die JSE die afgelope halfjaar, met sy aandeelprys wat van Januarie tot Junie met 32,8% geklim het.

Tharisa het ook chroom- en platinumbedrywighede in Zimbabwe. Hy het 'n verwerkingsaanleg naby Brits, en het 'n ooreenkoms met die myngroep Sibanye-Stillwater om sy chroom vir hom te verwerk en die chroomkonsentraat te bemark.

Hy het ook 'n logistieke onderneming, Arxo Logistics, wat platinumgroep-konsentraat binnelands per pad vervoer, en chroomkonsentraat via die hawens van Richardsbaai, Durban en Maputo na internasionale kopers uitvoer. Hy bied sulke logistieke dienste ook aan ander myne.

Tharisa besit ook Redox One, 'n laboratorium in Duitsland wat ferrochroom-batterytegnologie bied.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM