Energie

Hier betaal jy die meeste vir jou krag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kragtariewe in Suid-Afrika styg veelvoudige kere meer as inflasie.  Foto: Gallo Images
Kragtariewe in Suid-Afrika styg veelvoudige kere meer as inflasie. Foto: Gallo Images

Kaapstad, Oos-Londen en Pretoria is die drie duurste stede vir huishoudings wat elke maand groot hoeveelhede krag benodig.

Die verskil in prys vir 900 kilowattuur (kWh) krag net tussen die 12 grootste munisipaliteite beloop byna R800, wat wys op die reuseverskille in die kragtariewe wat verbruikers moet opdok.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) besluit oor die tariefverhogings wat Eskom op sy kliënte mag afdwing - hetsy groot nywerhede en sommige private verbruikers wat krag regstreeks van Eskom koop of plaaslike regerings wat dit dan aan verbruikers herverkoop.

Nersa moet ook elke munisipaliteit se aansoek om verhogings in kragtariewe oorweeg, en dis op die oomblik 'n netelige probleem.

Eskom se hoër tariewe begin op 1 April en munisipaliteite s'n op 1 Julie. Die meeste huishoudings het dus nou skaars 'n maand van die hoër tariewe agter die rug.

Munt slaan

Die hooggeregshof in Pretoria het in Oktober 2022 bevind dat Nersa munisipale kragtariewe langer as 'n dekade op onwettige wyse vasgestel het, wat die tariewe onbekostigbaar hoog maak.

Die hof het Nersa in sy uitspraak beveel om sy werkwyse te verander van hoe munisipaliteite se aansoeke om hoër tariewe geëvalueer word.

Die kragtariewe moet kragtens wet gegrond wees op wat dit 'n munisipaliteit kos om krag te lewer, plus 'n redelike wins. Nersa moet ook seker maak dat koste wat weens die munisipaliteit se eie ondoeltreffendheid aangegaan word, nie in berekening gebring word met die vasstelling van kragtariewe nie.

Munisipaliteite kan byvoorbeeld nie van verbruikers verwag om op te dok vir die diefstal van krag waarvoor daar geen gevolge is nie. Ook die swak invordering van skuld kan nie voor die deur van verbruikers gelê word wat wel betaal nie.

Nersa het munisipaliteite egter jare lank toegelaat om elke jaar stygende koste soos vir hoër Eskom-rekeninge en salarisse by te tel sonder om behoorlik na hul basiskoste vir kragverskaffing en doeltreffendheid te kyk.

Die hof het Nersa sowat 'n jaar tyd gegee om 'n nuwe metode te ontwikkel en die reguleerder spesifiek verbied om van 1 Julie vanjaar af weer sy onwettige meto­de te gebruik.

Nersa het einde verlede jaar dié hofuitspraak in 'n brief onder munisipaliteite se aandag gebring en beklemtoon dat hulle kostestudies moet doen as grondslag vir hul tariefaansoek. In 'n opvolgbrief aan die einde van Januarie het Nersa egter van deuntjie verander.

Kaapstad het 'n reputasie as 'n duur stad wat onder meer huur betref, maar dit blyk dat kragtariewe ook hier die hoogste in die land is.
Kaapstad het 'n reputasie as 'n duur stad wat onder meer huur betref, maar dit blyk dat kragtariewe ook hier die hoogste in die land is.

Ja, maar nee

Die reguleerder het toe 'n aantal aannames aan munisipaliteite voorgehou, soos met hoeveel Eskom se tariewe en munisipale werkers se salarisse styg en aangeraai dat hul tariefaansoeke daarop gegrond word.

Nersa het in Mei ook aangekondig dat hy, in 'n ongewone stap, vanjaar die tariefaansoeke van munisipaliteite vir kommentaar op sy webblad publiseer en die kommentaar van die publiek, tesame met sy eie ontleding, in ag sal neem in sy oorweging van die aansoeke voor sy finale besluit aan die einde van Junie.

AfriForum het die aansoeke nagegaan en die oorgrote meerderheid het geen inligting bevat oor wat dit die betrokke munisipaliteite kos om krag te lewer nie.

Wie is die duurste?

MyBroadband het bereken wat dit kos om 900 kWh krag in elkeen van die land se 12 grootste munisipaliteite te koop. Die bedrag sluit die vaste kragheffing in wat mense in onder meer Kaapstad en Johannesburg moet betaal.

• Kaapstad: R3 769,67

• Oos-Londen: R3 631,22

• Pretoria: R3 461,60

• Ekurhuleni: R3 399,63

• Gqeberha: R3 381,53

• Johannesburg: R3 323,26

• Mbombela: R3 308,15

• Polokwane: R3 221,91

• Bloemfontein: R3 171,99

• Durban: R3 011,23

• Klerksdorp: R3 010

• Kimberley: R3 001

Luidens die organisasie Rates Watch was die goedgekeurde tariefstygings per kWh vir munisipaliteite van 1 Julie soos volg:

• Kaapstad: 11,78%

• Oos-Londen: 12,7%

• Pretoria: 12%

• Ekurhuleni: 12,74%

• Gqeberha: 15,7%

• Johannesburg: 10,74%

• Mbombela: 12,72%

• Polokwane: 13%

• Bloemfontein: 13,72%

• Durban: 14%

Dié syfers is meer as dubbeld en selfs drie keer meer as die heersende inflasiekoers van 5,1%.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM