Sekere dinge wat nog afgehandel moet word by die Koeberg-kernkragstasie hou verband met eenheid 2 by die kragstasie, het Eskom Vrydag erken.
Eskom het aanvanklik gedurende die huidige ronde van sittings vir openbare deelname oor die verlenging van Koeberg se bedryfsleeftyd met nog 20 jaar aangevoer alle voorbereidings is afgehandel sodat hy kan voldoen aan die vereistes om 'n verlengde bedryfslisensie te kry.
Maar Keith Featherstone, hoof van kernkrag by Eskom, het Vrydag op die sitting in Athlone toegegee die dinge wat nog uitstaande is, is van toepassing op eenheid 2, waarvan die bedryfslisensie eers in November volgende jaar verstryk.
Die bedryfslisensie vir eenheid 1 verstryk op 21 Julie. Eskom het vroeër suksesvol aansoek gedoen dat die lisensies van die twee eenhede geskei word om hom kans te gee om die werk af te handel wat nog by eenheid 2 gedoen moet word.
Op vrae van mense op die sitting oor watter waarborge Eskom kan gee dat Koeberg vir 20 jaar steeds veilig bedryf kan word, het Featherstone gesê die fokus is meestal op rampe soos dié by Tsjernobil in Oekraïne in 1986, of Foekoesjima in Japan in 2011.
Maar daar word min gepraat oor die voorval by die Three Mile Island-kernkragstasie in Amerika in 1979. Dié kragstasie is van soortgelyke ontwerp as Koeberg. Featherstone het aangevoer die kernsmelting, wat in Maart 1979 daar plaasgevind het, was 'n nie-gebeurtenis omdat dit 'n veel veiliger ontwerp was as byvoorbeeld die reaktor by Tsjernobil.

Volgens Featherstone wys internasionale tendense dat kernkrag veilig bedryf kan word as dit korrek bestuur word, en die herlewing van kernkrag is noodsaaklik om teikens te haal vir die verlaging van kweekhuisgasvrystellings.
Volgens hom is die kernkragbedryf 'n hoogs gereguleerde bedryf, en dit is waarom Koeberg ook so betroubaar bedryf kan word.
Gabriel Klaasen, 'n aktivis van die omgewingsgroep Project 90 by 2030, het in 'n voorlegging gewys op Frankryk wat soortgelyke kernkragstasies as Koeberg het, maar wat veel strenger en omvattender opknappings doen om van dié kragstasies se leeftye te verleng.

In Frankryk word die bedryfsleeftyd aanvanklik met net 10 jaar verleng, en die interval tussen lekkasietoetse is na vyf jaar verkort, terwyl Eskom steeds by 10 jaar hou.
"Is Suid-Afrikaanse lewens dan minder belangrik as Franse lewens?" het Klaasen gevra.
Hy het gewys op die Internasionale Atoomenergieagentskap se aanbeveling dat kernaanlegte vyf lae van beskerming teen radioaktiwiteit in 'n reaktorgebou moet hê, terwyl Eskom by Koeberg volgens hom net drie lae van beskerming het.
Klaasen het 'n beroep op die Nasionale Kernreguleerder gedoen om die regte besluit te neem. "Julle het die geleentheid as 'n onafhanklike liggaam om die verkeerde besluite van die verlede reg te stel, en julle het die geleentheid om te wys julle is nie gekaap nie, soos baie ander groepe en entiteite."
Die laaste sessie van die openbare sitting word Saterdag in die Atlantis-sportsentrum gehou.





















