Energie

Kragdiefstal: 400 transformators vervang, maar duisende op waglys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kragdiefstal en vandalisme knou Eskom se infrastruktuur teen ’n enorme koste.  Foto: William Horne
Kragdiefstal en vandalisme knou Eskom se infrastruktuur teen ’n enorme koste. Foto: William Horne

Die oorlading van Eskom se transformators en substasies weens onwettige kragverbindings het die hoogte ingeskiet, maar met 400 hiervan wat in vyf maande vervang is, is duisende nog onklaar, met 'n rekening van R112 miljoen wat nog wag.

Luidens 'n verklaring van Eskom Woensdag het hy sedert 1 Januarie 400 transformators wat weens oorlading onklaar geraak het, vervang. 'n Verdere 1 000 wat onklaar is, kon nog nie vervang word nie.

In 2021 het Eskom aan Netwerk24 gesê elke transformator boaan 'n woonbuurt se kragpale kos R80 000.

Sedertdien, met 'n gemiddelde inflasiekoers van sowat 6% per jaar, is die koste nou veel hoër, al kon Eskom nog nie aan Netwerk24 bevestig wat die presiese koste in 2024 vir die vervanging reeds beloop nie.

Die 400 vervangde transformators het die nutsmaatskappy dus minstens R32 miljoen uit die sak gejaag (as die drie jaar oue prys van R80 000 per transformator vir die berekening steeds gebruik word).

Dié uitgawes sluit ook nie byvoorbeeld arbeidskoste, logistieke koste, die nodige toerusting of ander betrokke herstelwerk in nie.

Die 1 000 onklaar transformators wat nog nie vervang is nie, sal die rekening dus met nog minstens R80 miljoen opstoot.

Eskom sê verder dat 'n bykomende 2 500 transformators tans gereeld oorlading ervaar en binnekort nie verder herstel sal kan word nie. Hulle sal dus ook in die nabye toekoms vervang moet word. Dit sal die maatskappy se rekening met nog R200 miljoen opstoot.

Maar dis nie net transformators wat weens oorlading naderhand onherstelbaar is nie. Minisubstasies in woonbuurte word swaar getref wanneer die transformators naby hulle onklaar raak. En met genoeg oorlading in 'n kort tydperk moet dié groot toerusting ook vervang word.

Luidens dieselfde syfers wat in 2021 aan Netwerk24 verskaf is, het 'n minisubstasie toe sowat R350 000 gekos.

En wanneer 'n minisubstasie buite werking raak, stig dit nie net soos transformators moontlik brande nie, maar ontplof selfs.

Oorlaaide transformators weens kragdiefstal lei tot ernstige risiko's vir menselewens.

—  Agnes Mlambo

In die 2020-'21-boekjaar het Eskom meer as R1 miljard bestee aan die vervanging van minisubstasies en sekere transformators wat ontplof het.

Luidens Eskom se jongste verklaring is kragdiefstal met onwettige kragverbindings die hoofoorsaak van oorlading.

"Oorlaaide transformators weens kragdiefstal lei tot ernstige risiko's vir menselewens," sê Agnes Mlambo, waarnemende hoof van Eskom se verspreidingsafdeling.

"Die tyd, uitgawes en mannekrag wat dit kos om transformators te vervang, kon aangewend word om die betroubaarheid van ons kragnetwerk te verbeter, meer gemeenskappe te bedien, die ervaring van ons betalende kliënte te verbeter en meer werksgeleenthede te skep.

" 'n Transformator wat deur oorlading beskadig word, kan 'n gebied tot ses maande sonder krag laat."

Die wagtyd vir nuwe transformators, en veral nuwe minisubstasies, is lank.

Dit is omdat soveel van hulle deurlopend vervang moet word dat daar nie voorraad gereed is om bloot te vervoer nie. Nuwe bestellings moet gemaak word, meestal van buitelandse vervaardigers, en dit kan ook eers gebeur wanneer geld beskikbaar word.

Om ladingsvermindering en 'n skielike verlies aan kragtoevoer te voorkom, het Eskom die ‘Save Your Transformers, Save Lives'-veldtog begin.

—  Eskom

Gemeenskappe wat wag op nuwe transformators en minisubstasies staar verder 'n ander soort duisternis in die gesig nadat die vervanging plaasgevind het: ladingsvermindering.

In Eskom se eie woorde is die rede daarvoor eenvoudig: "Ladingsvermindering word gedurende spitstye, van 05:00 tot 09:00 en 17:00 tot 21:00 daagliks toegepas. Dis om Eskom-toerusting soos transformators en minisubstasies te beskerm teen ontploffings wat veroorsaak word deur onwettige verbindings of peutering wat die toerusting oorlaai. Dis ook om eiendom te beskerm teen skade wat weens ontploffings kan geskied.

"Ladingsvermindering word toegepas in digbevolkte gebiede wat hul krag direk van Eskom kry en gebiede met 'n groot aantal onwettige verbindings gedurende die tye wanneer die grootste skade gebeur."

Luidens die verklaring het Eskom 'n doelgerigte veldtog geloods om gemeenskappe in te lig en te bemagtig om hul kraginfrastruktuur, en dus kragtoevoer, te beskerm.

"Om ladingsvermindering en 'n skielike verlies aan kragtoevoer te voorkom, het Eskom die ‘Save Your Transformers, Save Lives'-veldtog begin, wat kliënte versoek om hul kragverbruik te verminder, te verseker dat die elektrisiteit wat hulle gebruik wettig gekoppel is, dat hulle daarvoor betaal, en om onwettige aktiwiteite aan te meld."

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM