Hoewel munisipaliteite sowat R78 miljard aan Eskom skuld, word munisipaliteite self sowat R349 miljard geskuld deur ander staatsinstellings, die sakesektor en verbruikers.
Die nasionale tesourie se skema om kwalifiserende munisipaliteite se skuld aan Eskom af te skryf, pak net 'n finansiële probleem aan, terwyl die eintlike probleem 'n breër strukturele probleem is.
So het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, Maandag gesê op sy tweeweeklikse inligtingsessie oor die kragsituasie.
Ramokgopa klink skepties oor die sukses van die tesourie se program, want dit blyk 78% van die munisipaliteite wat aan die tesourie se skuldafskrywingsprogram deelneem, is reeds weer wanbetalers.
Hy is optimisties oor die sukses van 'n gesamentlike poging van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga), munisipaliteite en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake om munisipaliteite by te staan om hul skuld van ander staatsentiteite, die sakesektor en verbruikers in te vorder.
Kragtariewe styg onvolhoubaar
Ramokgopa het herhaal dat die huidige trajek van skerp stygings in kragtariewe onvolhoubaar is, maar het tog beklemtoon hy kan nie inmeng by Eskom se regulatoriese proses van tariefaansoeke by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) nie.
Dit was op 'n vraag oor Eskom se plan om vir 'n verhoging van meer as 34% in die komende tariefjaar te vra.
Volgens Ramokgopa sal Eskom wel gevra word om sy aansoek met sy departement te deel voordat dit by Nersa ingedien word.
Kragtariewe het oor die afgelope dekade met sowat 400% gestyg. Selfs huishoudings wat krag kan bekostig, ervaar toenemend al hoe meer druk en daar gaan 'n punt kom waar hulle bloot net nie meer die tariefverhogings kan bekostig nie, het Ramokgopa gewaarsku.

'n Toetsprojek is begin by drie munisipaliteite om hulle te help om die toelae vir gratis elektrisiteit aan armes beter te bestuur, want net 2 miljoen uit 10 miljoen huishoudings in die land ontvang dit.
'n Tweede fase van die toetsprojek gaan twee munisipaliteite per provinsie kies om deel te neem. Die munisipaliteite wat die grootste skuld aan Eskom het, sal geteiken word.
Vroue help sukkel-stasies regkom
Wat beurtkrag en die kragkrisis betref, het Ramokgopa gewaarsku dis nog te gou om fees te vier dat beurtkrag vir altyd die rug toegekeer kan word, maar daar is wel heelwat verbetering.
Maandag is die 139ste dag sonder beurtkrag.
Van Maart tot Augustus was Kusile, Majuba en Matla die beste presteerders onder Eskom se kragstasies.
Daar is ook kragstasies waar dit eers baie sleg gegaan het, maar die situasie aansienlik verbeter het.
Dit is die Tutuka-kragstasie, waar onbeplande kragverliese met 29% gedaal het van 2 411 MW tot 949 MW.

By Kendal en Kriel is twee vroue die stasiebestuurders en hulle het volgens Ramokgopa uitstekende werk gedoen om dié sukkelende kragstasies se prestasie te verbeter en die personeel se moreel te verhoog.
By Kendal het Tshepiso Temu die span gelei om onbeplande verliese van 2 500 MW tot 919 MW te verminder. By Kriel het Morongwe Raphasha die span gelei om onbeplande verliese met 53% tot 508 MW te verlaag.
Dié opmerking kom kort nadat Suid-Afrika Vrydag Vrouedag gevier het.
Verwagtinge vir die somer
Volgens Ramokgopa sal Eskom oor die volgende drie weke sy vooruitsigte oor die kragsituasie in die somerseisoen bekend maak.
Intussen kan verwag word dat daar teen einde Augustus nog 2 500 MW se kragopwekkingskapasiteit na die netwerk sal terugkeer. Dit sluit eenhede van Medupi en Kusile in.
Waar Eskom in sy optimistiese scenario oor die winter onbeplande uitdiensstelling van 14 000 MW verwag het, het dit afgeneem tot 10 500 MW.
Namate die onbeplande kragverliese afneem, verbeter die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF). 'n Jaar gelede was dit 55%, maar dit staan nou op gemiddeld 63,2%.
Tot dusver vir Augustus het dit tot 67% verbeter.
Danksy die verbetering kan meer kapasiteit vir beplande instandhouding uit diens gestel word, en die huidige kapasiteit waaraan instandhoudingswerk gedoen word, is 5 600 MW, teenoor 3 500 MW 'n jaar gelede.
As die EBF beter is, is Eskom minder afhanklik van sy noodkragstasies. Sedert die begin van die lopende boekjaar is Eskom se dieselverbruik al 73% laer en is R9,6 miljard bespaar van April tot Junie.
Die laer besteding sal deursyfer na die tarief, want die beginsel is dat die tarief kosteweerspieëlend moet wees.
Die noodkragstasies word sedert 1 Augustus net 2,83% van die tyd benut, teenoor 20,6% van die tyd 'n jaar gelede.
Gaskrisis
Oor die verwagte gaskrisis teen 2026 wanneer Sasol nie meer aan sy nywerheidskliënte gas gaan verskaf nie, het Ramokgopa gesê die regering van Suid-Afrika en Mosambiek praat oor 'n moontlike oplossing vir die krisis deur meer aardgas deur die Rompco-pypleiding te vervoer.
Die invoer van vloeibare aardgas via hawens kan volgens Ramokgopa drie keer duurder wees as die huidige gas wat deur die pypleiding kom.
Kraguitvoer
Eric Shunmagum, hoofbestuurder vir kragopwekking by Eskom, sê Eskom gebruik sy pompopgaarskemas ook nou minder danksy goeie sonkragbydraes bedags.
Baie elektrisiteit is ook snags beskikbaar om die pompopgaarskemas se boonste damme vol te pomp. 'n Jaar gelede was die boonste damme al teen die middel van die week leeg.
Wat betref die 1 028 MW elektrisiteit wat Eskom na buurlande uitvoer, het Shunmagum verduidelik hiervan gaan 115 MW na Botswana, 74 MW na Eswatini, 39 MW na Lesotho, 612 MW na Mosambiek, 24 MW na Zambië, 72 MW na Zimbabwe, 71 MW na Namibië en 21 MW na die algemene kragpoel vir Suider-Afrika.















