Energie

Kragkrisis: Tshwane vorder met plan vir 1 000 MW

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie.  Foto: Argief
Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Die Tshwane-metro, onder die leiding van die DA se Cilliers Brink, boer volstoom vooruit om 1 000 MW opwekkingsvermoë vir sy eie gebruik binne 18 maande op te rig.

Brink, burgemeester van die koalisie-regeerde metro, het Dinsdag op 'n mediakonferensie aangekondig dat heelwat werk al verrig is rakende die metro se doelwit vir energie-onafhanklikheid. Die metro gaan die projek met sy komende energieberaad amptelik begin.

"Ons ambisie is om 1 000 MW se onafhanklike kragopwekking teen 2026 vir die metro op te rig," sê Brink.

Die hele metro benodig tot 2 600 MW om in sy kragbehoeftes te voorsien.

Die plan geskied deur twee parallelle strategieë.

Eerstens is die metro besig om private maatskappye te lok om die kostedoeltreffendste projekte in te span wat die vinnigste voltooi kan word.

Die versoek vir inligting is reeds geruime tyd gelede uitgereik, het Brink gesê, en dus kan hy nou eerder "vordering" aankondig as blote beloftes.

Altesame 39 ondernemings het op die versoek gereageer.

As deel van die metro se groter mikpunt om sy kragplan konsekwent uit te brei totdat hy geheel en al onafhanklik is van Eskom, is daar terselfdertyd 'n ander projek aan die gang. Dit behels om bestaande onafhanklike kragprodusente oor die land heen te werf om oortollige uitsette aan Tshwane te verskaf.

Sello Mphaga, hoof van die metro se afdeling vir volhoubaarheid, het beklemtoon dat die projek opgestel word om onder alle omstandighede sy doelwitte te kan bereik.

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro.
Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro.

Die plan sluit in die grootskaalse aanvaarding van kragversending-ooreenkomste, die ontplooiing van groot getalle elektriese voertuie wat deur hul eie sonkrag-aangedrewe geriewe gelaai word en om die metro se eie administratiewe geboue met sonkrag op hul dakke toe te rus.

"Tshwane stel daarboonop 'n eenvoudige en omvattende stelsel op om te verseker dat enigiemand in die metro hul oortollige energie seepglad aan die metro kan verkoop."

Deel van die plan vir die volgende 18 maande is om ook die metro se twee ou steenkoolkragstasies, wat al lank afgeskakel is, weer aan die gang te kry.

Die Rooiwal-kragstasie, wat 300 MW kan opwek, sal betyds opgeknap word, sê die span, en die Pretoria-Wes-kragstasie, wat 180 MW kan opwek, sal ook in dié tydperk in bedryf gestel word.

Volgens dr. Lardo Stander, 'n afdelingshoof van die Tshwane-metro, sal die hervatting van bedrywighede by dié twee kragstasies op hul eie 'n reuse- ekonomiese voordeel vir die metro meebring.

Hy verduidelik dat benewens die groot hoeveelheid krag wat ondernemings sal ondersteun, sal talle mense in diens geneem word by die kragstasies.

"Ons skep 'n omgewing vir ondernemings om te kan floreer," sê hy.

"Ons beoog nie net om ons eie krag te verskaf om in huidige behoeftes te kan voorsien nie, ons wil verseker dat ons aanhou uitbrei sodat groei kan plaasvind."

Stander sê die model wat tans op die tafel is, is om ondernemings in staat te stel om ononderbroke kragtoevoer deur die projek te kan bekom. Dit is die hoofdoel. Indien die 1 000 MW wel volledig beskikbaar is vir kragvoorsiening, kan die projek selfs die metro van tot vyf fases beurtkrag vrystel.

Hy sê die finansieringsmodel is opgerig om die metro se "beleërde finansies" in ag te neem.

Die projek sal gefinansier word deur 'n mengsel van skuld en regstreekse kapitaalbeleggings, deur middel van konsessies. Die weg word reeds gebaan om dit so vinnig as moontlik te kan vasmaak.

Die Tshwane-energieberaad sal op 19 en 20 Junie plaasvind.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM