Al hoe meer staatsdepartemente en ministers erken dat die volgende krisis die dreigende ineenstorting van munisipale kragnetwerke gaan wees - en dit sal dalk al volgende jaar begin.
"Munisipale kragverspreiding-infrastruktuur is op die rand van ineenstorting," het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, vroeër vandeesmaand op 'n mediakonferensie in Pretoria gesê.
"Aanvanklik het Eskom beraam dit sal teen 2030 begin vlamvat indien voldoende ingryping nie van stapel gestuur word nie.
"Nou sien ons dat dit baie, baie vinniger gaan gebeur. Die amptelike verwagting is dat heelwat munisipale kragverspreiding-infrastruktuur al teen 2025 sal begin ineenstort."
Volgens Ramokgopa en die nasionale tesourie se ondersoeke het die ineenstortings op verskeie plekke reeds begin.
"Talle gemeenskappe sit tans al tot ses maande lank sonder enige elektrisiteit, en dis weens die munisipaliteite wat reeds ineenstortings in hul infrastruktuur beleef het," het Ramokgopa gesê.
Die nasionale energiekrisiskomitee (Necom) het later in Mei beklemtoon 'n groot rede vir die krisis kan aan onwettige kragverbindings en vandalisme toegeskryf word.
Dit is dié misdadigheid wat munisipale begrotings sodanig "verlam" dat die nodige instandhouding nie gedoen word nie.
Kragtens art. 71 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) van 2014, moet alle plaaslike regerings en metro's vir 'n vasgestelde minimum vlak vir instandhouding en herstelwerk van infrastruktuur begroot.
Dié minimum vlak word as 'n persentasie van die algehele waarde van die munisipaliteit se eiendomme, aanlegte en infrastruktuur bepaal.
Sedert 2014 vereis die tesourie dat minstens 8% van die waarde van die bates as maatstaf vir die opstel van die munisipaliteit se begroting vir instandhouding en herstelwerk moet dien.
Uit die land se vier grootste metro's slaag slegs een daarin om dié teiken konsekwent te handhaaf: Kaapstad.
So lyk die metro's se jongste begrotings vir instandhouding en herstelwerk as persentasie van die waarde van hul eiendomme, aanlegte en infrastruktuur:
• Kaapstad: 8,1%;
• eThekwini: 7,5%;
• Johannesburg: 6,8%; en
• Tshwane: 2,3%.
Die probleem is erger onder kleiner munisipaliteite.
Groter netwerke, minder instandhouding
Oor die afgelope 30 jaar van demokrasie is 8,6 miljoen huishoudings wat nie vantevore elektrisiteit gehad het nie, aan die kragnetwerk verbind, maar min planne is gemaak om vir instandhouding te betaal.
Dít het Nhlanhla Ngidi, energiehoof van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga), op 'n paneelgesprek verlede maand in Pretoria erken.
Ngidi erken dat Salga tesame met die regering nie voorsiening gemaak het vir die instandhoudingskoste van so 'n enorme uitbreiding van verspreidingsnetwerke nie.
"Ons het grootmaatinfrastruktuur bygevoeg in gebiede waar behoeftige mense bly."
Dié verbruikers is juis dié wat slegs deur middel van skemas om gratis elektrisiteit aan huishoudings te verskaf, krag sou kon gebruik. Geen wins word dus hierdeur gemaak nie.
Met minder wins, 'n groter netwerk en al hoe meer behoeftiges, sê hy, is daar jare en jare bitter min instandhouding op verspreidingspilpunte gedoen.
"Vandag het ons 'n agterstand van meer as R200 miljard in instandhouding van munisipale energieverspreidingsinfrastruktuur."
Volgens Pozisa Njezula, portefeuljebestuurder oor elektrifisering van Eskom, kring die probleem ook nou vinniger en verder uit.
"Een van die uitdagings waardeur ons nou in die gesig gestaar word, is gemeenskappe wat ons kragmeters omseil net nadat hulle toegang tot krag kry."
LEES OOK | Jhb se kragnetwerk kan ‘enige oomblik' vou, maar stad wil Sandton oorvat
Nie-nakoming sonder gevolge
Die tesourie is verantwoordelik vir die nodige gevolgebestuur as munisipaliteite nié voldoen aan art. 71 van die MFMA nie.
Die tesourie het aan Netwerk24 verduidelik dat hy wel die nakoming van art. 71 onder plaaslike regerings evalueer.
Die tesourie sê verder dat hy "die belangrikheid beklemtoon om genoeg geld vir instandhouding en herstelwerk opsy te sit".
Die uitkoms van evaluerings word kwartaalliks op sy webwerf gepubliseer.
Die tesourie het egter nie geantwoord of, en hoe, hy ingryp by nie-nakomende munisipaliteite nie.
"Munisipaliteite se finansiële posisies het verswak weens uitdagings met betrekking tot inkomstebestuur, wat gelei het tot onvoldoende begrotingstoewysings vir herstelwerk en instandhouding.
"Herstelwerk en instandhouding is net nie die prioriteit in baie munisipaliteite nie. Boonop is daar leemtes in tegniese vaardighede in die meeste munisipaliteite."
Die jongste art. 71-verslag, vir die tweede kwartaal tot einde Desember 2023, dui op groot uitdagings rakende munisipaliteite se inkomste.
Verbruikers se agterstallige skuld aan plaaslike regerings landwyd beloop tans R338,2 miljard - 'n toename van R31,5 miljard op 'n kwartaalgrondslag.
Huishoudings verteenwoordig 72,7% van dié skuld.
Munisipaliteite, op hul beurt, skuld al amper R80 miljard aan Eskom, en 'n verdere R104,3 miljard word aan krediteure geskuld.





















