Daar sal na verwagting nie Vrydagaand beurtkrag wees nie.
Eskom het bevestig dat beurtkrag Donderdag van 16:00 tot 22:00 op fase 2 ingestel word, maar dan beëindig word, soos Dinsdag aangekondig is.
Dit kom danksy opwekkingsvermoë van 1 175 MW wat sedertdien weer aangeskakel is ná herstelwerk, sowel as 1 850 MW wat na verwagting voor Vrydagaand se spitstyd aangeskakel sal word.
Eskom meen saam met die "strategiese ontplooiing soos benodig" van sy noodreserwes behoort die stelsel stabiel te wees. Die noodreserwes verwys na die oopsiklus-gasturbines, wat met diesel aangedryf word, en wateropgaarskemas.
Eskom het dié week verseker sy winterplan is steeds geldig. Daarvolgens sal daar tot einde Augustus hoogstens 21 dae beurtkrag wees op nie hoër as fase 2 nie. Donderdag is dag 4 van dié 21 dae.
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, het vroeër die week gesê Eskom betree die winter in 'n veel beter posisie as verlede jaar.
In totaal is daar 2 500 MW se ekstra opwekkingsvermoë wat vanjaar beskikbaar is vir die winter wat nie verlede jaar beskikbaar was nie.
Die winterplan is dat Eskom geen beurtkrag sal hê as onbeplande kragverliese minder as 13 000 MW is nie, maar dat beurtkrag teen hoogstens fase 2 wel ingestel sal moet word as toestande versleg.
Wat die afgelope week gebeur het, is dat onbeplande verliese tot 15 000 MW toegeneem het weens die vertragings om eenhede betyds te herstel. Van 9 tot 12 Mei het die verliese van 9 500 MW tot 11 400 MW gewissel.
In dieselfde tyd het vertragings met eenhede wat moes terugkeer egter van 1 500 MW tot 3 000 MW toegeneem.





















