Munisipale kragverbruikers kan vanjaar 'n verhoging in elektrisiteitstariewe vryspring omdat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) nie uitvoering gegee het nie aan 'n hofbevel wat na verwagting tot laer munisipale kragtariewe sou lei.
Dít kan munisipaliteite se geldsake verder knou omdat hulle 12,72% meer moet betaal vir grootmaat-aankope van Eskom terwyl die res van hul koste ook gestyg het. Munisipaliteite se agterstallige skuld aan Eskom beloop meer as R70 miljard en dít kan hulle nog dieper in die skuld laat, sê Leon Claassen, ontleder van Ratings Afrika.
Nersa se elektrisiteitskomitee sal na verwagting vandeesweek 'n spesiale vergadering hou om oor die pad vorentoe te besluit.
MC Botha, prokureur van MC Botha Ingelyf, wat spesialiseer in elektrisiteitsregulering en kragtariewe, sê Nersa se enigste uitweg is om terug te gaan hof toe en uitstel te vra sodat die ou metode weer dié jaar gebruik kan word. Rapport verneem dit is die reguleerder se interne regsadvies, maar geen besluit is nog geneem om dit te doen nie.
Munisipaliteite moes reeds op 1 Maart hul tariefaansoeke ingedien het en Nersa moet vroegtydig daaroor besluit sodat dit op 1 Julie in werking gestel kan word.
Die jongste debakel kom nadat die hooggeregshof in Pretoria al in Oktober 2022 die manier waarop Nersa jaarliks munisipale kragtariewe vasgestel het, onwettig verklaar het. Die hof het Nersa 12 maande kans gegee en die verwagting was dat Nersa in dié tydperk 'n nuwe metode sou ontwikkel. Daar is egter nog niks van die aard gereed nie. Met die vorige metode het Nersa net gekyk waarmee munisipaliteite se grootste uitgawes vir kraglewering styg en dan 'n persentasie verskaf waarmee munisipaliteite hul tariewe mag verhoog. Daarmee saam was daar 'n prysband vir elke verbruikersgroep, soos huishoudings, ondernemings en nywerhede.
Die probleem daarmee was dat munisipaliteite nie elke jaar van nuuts af gekyk het wat dit hulle kos om krag te lewer en tariewe op grond daarvan bereken het, soos die wet voorskryf nie. Hulle mag net doeltreffende koste insluit en as daar byvoorbeeld nie aan almal rekeninge gestuur word nie, of uitermate baie krag weens diefstal verlore gaan, kan hulle nie die tariewe laai sodat die res van die verbruikers moet opdok nie.
Munisipale tariewe is in baie gevalle baie hoër as dié van Eskom waar hy krag regstreeks aan eindverbruikers verskaf en kenners meen daar is min regverdiging voor. Hulle het gehoop as die werklike koste van die dienslewering die grondslag van tariewe vorm, dit aansienlik laer sou wees.

In reaksie op die hofuitspraak het Nersa munisipaliteite in November laat weet hy gaan nie weer die riglyn en prysbande verskaf nie, en dat elke munisipaliteit 'n kostestudie moet doen wat die grondslag van hul tariewe moet vorm.
Nersa vra eintlik al jare dat munisipaliteite dit moet doen, maar sonder veel sukses. Nhlanhla Gumede, Nersa se heeltydse reguleerderlid vir elektrisiteit, het aan Rapport erken weinig van die munisipaliteite het dit gedoen. Hoewel Nersa as reguleerder teen munisipaliteite kan optree, doen hy dit selde.
In Januarie het Nersa aan munisipaliteite 'n vorm gestuur vir tariefaansoeke wat grootliks ooreenstem met die metode wat hy vroeër gebruik het om die riglyn te bepaal. Dit lyk dus of hy by gebrek aan 'n nuwe metode weer met die riglynmetode by die agterdeur wil inglip. Dít nadat die hof Nersa uitdruklik verbied het om die ou metode weer te gebruik. Dít kan die deur open vir verbruikers om tariefverhogings wat só toegestaan word, in die hof te beveg en só 'n verhoging tersyde te laat stel.
Asac meen Nersa loop die risiko om in sy rol as reguleerder te misluk.
AfriForum het reeds aan Nersa geskryf om duidelikheid te kry. Morné Mostert, die bestuurder vir plaaslike regering, sê AfriForum is bekommerd oor of Nersa aan die hofbevel gaan gehoor gee. Die vorm wat Nersa uitgestuur het, skep die indruk dat dít, eerder as die resultate van 'n kostestudie, gebruik gaan word om tariewe te bepaal.
Dít, sê Mostert, kan neerkom op minagting van die hof. Hy sê AfriForum sal enige kragtariewe beveg wat nie in ooreenstemming met die hofbevel en nie op 'n wettige manier vasgestel is nie.
Die Vereniging van Suid-Afrikaanse Sakekamers (Asac) hou ook die proses fyn dop. Die hofsaak waarin Nersa se vorige metode onwettig verklaar is, is juis deur twee van sy lede, die sakekamers van Nelson Mandelabaai en Pietermaritzburg, ingedien.
Asac meen Nersa loop die risiko om in sy rol as reguleerder te misluk en hom skuldig te maak aan minagting van die hof, na gelang van hoe hy nou te werk gaan. Volgens Melanie Veness, uitvoerende hoof, sal Asac se lede besluit hoe hulle moet reageer.
"So 'n besluit sal grootliks bepaal word deur ons lede se indruk van Nersa se verbintenis om die wet na te volg en in die beste belang van die Suid-Afrikaanse publiek op te tree."





















