Die energiereguleerder Nersa word daarvan beskuldig dat hy willens en wetens oorhaastige besluite neem omdat hy bloot later sal teruggaan en foute probeer regstel.
Rapport het inligting bekom oor die besprekings wat Nersa se komitee van 24 tot 28 Junie gehou het en waartydens munisipaliteite se aansoeke vir prysverhogings in 'n japtrap afgehandel is.
Dit blyk dié goedkeurings het inderhaas geskied omdat die verhogings reeds op 1 Julie in werking moes tree.
Die komitee het tydens 'n reeks vergaderings telkens sowat 30 aansoeke binne twee uur hanteer, wat neerkom op omtrent vier minute per aansoek.
Nersa is veronderstel om die aansoeke deeglik na te gaan om te verseker dat die berekeninge reg is en die winsgrens redelik. Die reguleerder het skynbaar die syfers net bolangs bekyk en maak nou staat op 'n latere oudit om alles na te gaan. Foute kan dan reggestel word met die gewraakte terugeis-meganisme. Hierdie meganisme beteken munisipale kragverbruikers kan aan terugwerkende tariefverhogings onderwerp word. Dit gebeur wanneer Nersa die syfers oudit waarop munisipaliteite hul tariefaansoeke gegrond het, en dit blyk dat dié tariewe te laag vasgestel is.
Dié planne herinner aan die terugeis-meganisme vir Eskom, waar groot verhogings benewens die normale tariefverhogings ingestel word om Eskom te vergoed vir onderverhaling in vorige jare. Dit is wyd gekritiseer omdat dit onsekerheid oor toekomstige tariewe meebring.
Deon Conradie, 'n deeltydse dosent in tariewe by Wits se sakeskool, sê dit verhoog die risiko vir verbruikers aansienlik en hy is skepties oor die wettigheid van so 'n werkwyse alvorens die metodologie behoorlik verwoord en beskikbaar gestel is vir openbare kommentaar. Nersa het dit nie gedoen nie.
Nersa se proses om munisipale tariewe vas te stel is egter gebrekkig omdat daar geen deursigtigheid is oor sy werkwyse nie.
Inteendeel, die reguleerder is deur 'n hofbevel in 2022 verbied om verder munisipale tariewe vas te stel aan die hand van 'n riglyn en prysbande soos dit meer as 'n dekade lank gedoen is.
Die hof het Nersa gebied om munisipale tariewe te grond op die werklike koste van elke munisipaliteit se dienslewering plus 'n redelike winsgrens, soos die wet voorskryf. Dit is ook hoe Eskom se tariewe bepaal word.
Nersa het 'n formele metodologie vir die vasstel van Eskom se tariewe wat die terugeis-meganisme insluit. Daarin word die besonderhede uiteengesit van watter uitgawes kwalifiseer vir so 'n eis, wanneer die eis ingestel word en wat gebeur as die afwyking te groot is.
Dié metodologie fokus verder net op Eskom se totale inkomste en daar is 'n ander proses voorgeskryf om die spesifieke tarief vir elke gebruikersgroep vas te stel. Daar is niks van die aard vir munisipaliteite nie.
Conradie sê die beweegrede agter die terugeis-meganisme, wat algemeen in sulke regulering is, maak sin. Nersa se proses om munisipale tariewe vas te stel is egter gebrekkig omdat daar geen deursigtigheid is oor sy werkwyse nie.
Die proses is volgens hom onbillik omdat dit nooit behoorlik geformuleer is en belanghebbendes geen inspraak gehad het nie.





















