Pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet, waarvoor nuus op die oomblik afgewag word, gaan 'n impak hê op hoeveel motoriste in Julie vir brandstof betaal.
Die rand het Vrydag tot selfs R17,87 teen die dollar versterk - die beste vlak sedert Augustus verlede jaar - in afwagting op die aankondiging.
'n Kabinet waarin markte vertroue het, kan die rand verder laat versterk - maar die teenoorgestelde is uiteraard ook waar.
LEES OOK | Cyril onder druk om nuwe kabinet gou aan te kondig
Die versterking van die rand die afgelope week het nog nie tot die verwagte daling in die petrolprys begin bydra nie, maar werk dit inteendeel nog in dié stadium met 5c per liter teen. 'n Week gelede was dit nog 13c per liter.
Indien brandstofpryse vandag vasgestel kon word, sou 95-oktaan-petrol R1,04 per liter goedkoper word en diesel met 0,05% swael 36c per liter.
Lesers met 'n goeie geheue sal besef dis swakker syfers as 'n week gelede, in die middel van die oorsigmaand vir Julie se brandstofpryse. 'n Week gelede was die oorverhaling (dus daling, indien pryse toe kon verander) R1,13 per liter 95-oktaan en 60c per liter diesel met 0,05% swael.
Die afgelope week het die rand versterk, maar internasionale brandstofpryse in dollar het gestyg.
Dié twee faktore bepaal die oorverhalings, wat daagliks deur die Sentrale Energiefonds bygewerk word.
Die jongste oorverhalings lyk soos volg:
• 95-oktaan-petrol: R1,04 per liter;
• 93-oktaan-petrol: R1,10 per liter;
• diesel met 0,05% swael: 36c per liter;
• diesel met 0,005% swael: 31c per liter; en
• paraffien: 28c per liter.
Daar is in Julie nog twee faktore wat die pryse kan beïnvloed. Die eerste is die verskil in die prys van 95- en 93-oktaan, vanweë die kwartaallikse aanpassing van die oktaandifferensiaal.
Die tweede faktor is die balansfondsheffing. Dis tans net 4,38c per liter, maar laas maand se skerp daling in brandstofpryse kan meebring dat dit heeltemal wegval en motoriste nóg 'n paar sent bespaar.
Die oorsigmaand vir Julie se brandstofpryse duur tot 28 Junie en die nuwe pryse word op Woensdag 3 Julie van krag.
95-oktaan-petrol kos op die oomblik R24,25 per liter in Gauteng en R23,46 per liter aan die kus.
Die groothandelsprys van diesel met 0,05% swael is R20,97 per liter in Gauteng en R20,18 per liter aan die kus. Die kleinhandelsprys van diesel word nie gereguleer nie.



















