Met die Sentrale Energiefonds (SEF) - en dus in werklikheid die staat - wat nou 'n 40%-belang in die Rompco-gaspypleiding besit, wil PetroSA hom as 'n staatsbeheerde gashandelaar posisioneer.
PetroSA is 'n filiaal van die SEF wat in die proses is om met sy medefiliale iGas en die Strategiese Brandstoffonds saam te smelt om 'n nuwe staatsbrandstofmaatskappy te vorm.
PetroSA het in Maart 'n lisensie as gashandelaar van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) gekry, het die SEF-groep vroeër aan 'n parlementskomitee gesê.
PetroSA werk aan 'n gasverkoopooreenkoms met die Mosambiekse staatsenergiemaatskappy ENH, en onderhandel ook vir twee gasvervoerooreenkomste met Sasol en Rompco.
Sasol het 'n deel van sy belang in Rompco aan die SEF verkoop en besit nou net 'n 20%-belang.
Sesakho Magadla, waarnemende hoof van PetroSA, het in 'n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie gesê PetroSA wil 2 miljoen gigajoule se aardgas per jaar van die Pande-gasveld en die Temane-gasveld in Mosambiek via die Rompco-pypleiding na Secunda invoer, en daarvandaan die gas aan potensiële kopers in Gauteng lewer via Sasol se pypleidingnetwerk.
Volgens Magadla het PetroSA en ENH 'n vergadering beplan om oor die skep van 'n gesamentlike onderneming te praat wat as gashandelaar kan optree.
PetroSA wil ook in die Mosselbaai-omgewing met gashandel begin. Die idee is dat aardgas van die diepsee-gasvelde ingevoer word om nie net aan die opgeknapte gas-tot-brandstofaanleg gelewer te word nie, maar ook aan ander potensiële gasverbruikers. Dit kan in die vorm van vloeibare aardgas, saamgeperste aardgas of pypleidinggas wees, en PetroSA is volgens Magadla in gesprek met potensiële verbruikers.
Dit blyk PetroSA mik om die kapasiteit op die Rompco- en ander gaspypleidings van Sasol te benut wat Sasol nie meer sal gebruik nie. Sasol het sy gaskliënte vroeër gewaarsku dat hy hulle van 2026 af nie meer van dieselfde hoeveelhede aardgas as tans sal kan voorsien nie, omdat hy dit vir eie gebruik wil benut. Sasol is onder druk om sy kweekhuisgasvrystellings by sy sintetiesebrandstofaanleg te verlaag in Secunda, waar hy steenkool tot brandstof verwerk. Sasol wil meer van die steenkool met aardgas vervang.
Maar daarby is sy gasvelde in Pande en Temane in Mosambiek ook besig om uitgeput te raak. Die vraag is dus waar PetroSA die aardgas vandaan gaan kry wat hy mik om te verkoop. Die vermoede is dat daar met ENH onderhandel word oor die koop van aardgas wat by nuwe gasvelde aan die noordkus van Mosambiek ontwikkel word.





















