Energie

R2 200 mjd. se kragplan: ‘Grootste belegging sedert apartheid’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
default
default

Die geïntegreerde-hulpbronplan (IRP) wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer sal word, is die grootste enkele beleggingsplan van die regering sedert apartheid beëindig is.

Dit impliseer ’n belegging van R2 200 miljard teen 2042, en verteenwoordig 30% van die land se BBP, sê dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit.

Dit behels dat nuwe kragopwekkingsvermoë van 105 000 MW teen 2039 gebou word. Dit is soos om twee en ’n half nuwe Eskoms te bou, het Ramokgopa Sondag op ’n mediakonferensie oor die IRP gesê.

Die IRP2025 sluit 5 200 MW nuwe kernkrag in teen 2039, het Ramokgopa gesê.

Omgewingsgoedkeuring om tot 4 000 MW nuwe kernkrag by Duynefontein reg langs Eskom se bestaande Koeberg-kernkragstasie op te rig, is onlangs van die departement van bosbou, visserye en die omgewing ontvang, het Ramokgopa gesê.

Die regering is dus gereed om nou met nuwe kernkragverkryging te begin.

Gaskrag

Die nuwe IRP beoog ook dat gaskragstasies wat sowat 6 000 MW kan lewer teen 2030 opgerig word, spesifiek om die steenkoolkragopwekkingskapasiteit van sowat 8 000 MW te vervang wat teen 2030 sal moet sluit.

Hy het wel toegegee daar is ’n groot risiko verbonde aan die haal van dié teiken gegewe die lang wagtye vir onder meer die bestelling van gasturbines.

Enige vertragings met die bou van geriewe by onder meer Richardsbaai om vloeibare aardgas in te voer en weer in gasvorm om te skakel, skep ook ’n risiko rakende die mikpunt.

Maar Ramokgopa meen daar word voorsiening gemaak vir moontlike vertragings, deurdat die bestaande spitstydkragstasies Ankerlig, Gourikwa, Dedisa en Avon vinniger uitgebrei of omgeskakel kan word om met gas te werk.

Steenkool se rol sal krimp

Die IRP sal Suid-Afrika se energiemengsel verander sodat dit minder kweekhuisgasse vrystel. Die huidige bydrae van steenkool tot die totale kragopwekkingskapasiteit is 58% en dit sal verklein tot 27% teen 2039, of steeds 40 960 MW.

Sowat 11 270 MW nuwe sonkrag sal gebou word tussen nou en 2030, en 7 340 MW nuwe windkrag.

In die IRP kry Eskom opdrag om teen 2030 ’n demonstrasie-aanleg op dreef te kry wat skoonsteenkooltegnologie gebruik, sodat gesien kan word hoe dit in Suid-Afrika kan werk.

In totaal sal daar 25 000 MW sonkrag teen 2039 wees, 16 000 MW van gaskragstasies, 8 500 MW se battery- en pompopgaarstelsels en 16 000 MW se verspreide kragopwekking (wat verwys na dakgemonteerde sonkrag en ander vorms van eie kragopwekking).

Benewens die 5 200 MW nuwe kernkrag sal nog 4 800 MW kernkrag ondersoek word om ’n herlewing in die land se kernkrag-waardeketting aan die gang te skop, het Ramokgopa gesê.

Vaardighede

Van die uitdagings vir die IRP2025 is vaardighede soos dié van die kernwetenskaplikes wat weg is toe die korrelbedkernreaktorprogram gestaak is.

Daar is ook die uitdaging van die konstruksiebedryf wat ineengestort het ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi van 2010, want benewens die Medupi- en Kusile-kragstasie was daar nie sedertdien meer enige wesenlike konstruksieprojekte nie.

Kernkrag: internasionale tendens

Vir mense wat twyfel of Suid-Afrika weer nuwe kernkrag kan bou, het Ramokgopa na Egipte verwys, wat tans vier reaktors vir ’n totaal van 4 800 MW oprig en Suid-Afrika gaan verbysteek wat kernkrag-opwekkingsvermoë betref. Maar Suid-Afrika het al ’n geskiedenis van kernkrag en kon daarin slaag om eenheid 1 van Koeberg se leeftyd te verleng.

Internasionaal is daar ’n tendens om kernkrag te laat herleef, met meer as 20 lande wat by die VN se klimaatberaad in Desember 2023 beloof het hulle wil hul kernkragopwekkingskapasiteit teen 2050 verdriedubbel van huidige vlakke.

Daar is 14 internasionale finansiers wat hulle bereid verklaar het om kernkrag in die toekoms te finansier.

Eskom is ‘battery van die ekonomie’

Vir die IRP om daarin te slaag om die ekonomie weer aan die groei te kry, moet die energiebeskikbaarheidsfaktor minstens 60% of hoër wees, het Ramokgopa gesê.

“Ons moet seker maak Eskom bly stabiel, want as die private sektor misluk, gaan hulle terugval op die Eskom-netwerk. Eskom is die battery van die ekonomie.”

Hy het wel gemeld enige vertragings met die plan om die transmissienetwerk uit te brei kan ook ’n risiko vir die IRP wees.

– francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM