Energie

Sasol se grootste pyn is sy Amerikaanse chemiese afdeling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Lugfoto van Sasol se chemiese aanleg in Lake Charles in Louisiana in Amerika. Foto: Sasol
’n Lugfoto van Sasol se chemiese aanleg in Lake Charles in Louisiana in Amerika. Foto: Sasol

Die petrochemiese reus Sasol het 'n hengse verlies voor rente en belasting van R27,3 miljard gely in die afgelope boekjaar tot einde Junie.

Dit is teenoor die verdienste voor rente en belasting van R21,52 miljard in die vorige boekjaar.

Aandeelhouers van Sasol moet tevrede wees met geen slotdividend vir die boekjaar nie, en die jaardividend bly dus op die R2 per aandeel wat met die halfjaarresultate verklaar is. Dit is teenoor die R17 per aandeel wat hulle in die vorige boekjaar in die vorm van dividende ontvang het.

Die verlies spruit grootliks uit verdere reusagtige afskrywings wat Sasol op sy boeke moes aanteken, benewens winsmarges wat onder druk is en pryse vir chemikalieë wat laer is.

Die segmentele inligting in Sasol se state wys sy Amerikaanse chemiese afdeling is die een groot sondaar wat tot sy verlies bygedra het, met 'n verlies van R61 miljard. Sy chemiese bedrywighede in Afrika het steeds 'n verdienste voor rente en belasting van R6,29 miljard getoon. Sy brandstofafdeling het 'n verdienste van R18,9 miljard en sy mynbou- en gasafdelings spog ook nog met verdienste van onderskeidelik R3,2 miljard en R6,7 miljard.

Volgens Sasol is die negatiewe faktore deels teengewerk deur 'n sterker randprys van olie, verbeterde raffineringsmarges, 'n verlaging in totale koste en beter verkoopsvolumes.

Daar was ook 'n sterker bedryfsprestasie in die vierde kwartaal wat bygedra het tot 'n beter tweede helfte van die boekjaar.

Maar die afskrywing van R56,7 miljard is meer as die verwagte afskrywing van R55,8 miljard wat Sasol nog 'n week gelede in 'n handelsopdatering genoem het.

Dit spruit grootliks uit 'n afskrywing van R45,5 miljard by sy chemiese bedrywighede in Amerika, waar markpryse en die vooruitsigte vir die chemiese mark daar nou langer sleg lyk as vroeër.

By sy chemiese afdeling in Afrika en sy Suid-Afrikaanse waks-waardeketting is R3,9 miljard afgeskryf. Dit spruit ook deels uit 'n ooraanbod en 'n verlaagde vraag na van die chemiese produkte in die internasionale mark.

By die Secunda-aanleg, waar Sasol brandstof uit steenkool en aardgas verwerk, is R5,7 miljard afgeskryf.

Die afskrywings is veel hoër as die R33,7 miljard wat in die vorige boekjaar afgeskryf is, wat grootliks verband hou met die Secunda-aanleg.

Dividendbeleid verander

Sasol sê hy moes sy dividendbeleid verander. Dit was eers gegrond op 2,5 maal tot 2,8 maal kernwesensverdienste per aandeel. Maar die gebrekkige verband tussen wesensverdienste en kontantvloeigenerering, asook hoë skuldhefboomvlakke, het die maatskappy genoop om die beleid te hersien.

Die direksie het nou 'n verandering aanvaar wat gegrond is op 30% van vrye kontantvloei, mits netto skuld onder $4 miljard bly. Die vrye kontantvloei is voordat dividende betaal is en diskresionêre kapitaal bestee is.

Maar die netto skuld vir die afgelope boekjaar was $4,1 miljard, wat meer is as die drempelvlak van $4 miljard, en die direksie het dus besluit om geen slotdividend vir die boekjaar te verklaar nie.

Sasol se finansiële state wys die staatspensioenfonds (GEPF) is die grootste enkele aandeelhouer in Sasol, met 'n belang van byna 17% wat hy namens sy lede in Sasol besit.

Die regering van Suid-Afrika het ook steeds 'n belang van 8,21% in Sasol via die Nywerheidsontwikkelingskorporasie.

Dit is die eerste Sasol-resultate wat onder toesig van Simon Baloyi as nuwe uitvoerende hoof uitgereik is. Baloyi is sedert 1 April vanjaar die nuwe hoof nadat Fleetwood Grobler uitgetree het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM